Dit gebeur op 'n amper maandelikse basis, maar hierdie keer val dit presies saam met volmaan, wat die effek het dat die deursnee van die volmaan 14% groter en die oppervlakte omtrent 30% groter is as tydens Apogeum of verste posisie.
Die gebeurtenis het mettertyd die lekenaam Supermaan gekry, wat verwarrend kan wees aangesien Julie en September se volmane ook naby perigeum plaasvind en aanleiding gee tot 'Drie Supermane'-stories, terwyl slegs 10 Augustus die werklike Perigeum-volmaan is. Albei die ander is omtrent 1 400km verder.
'n Ander leketerm wat vreeslik vrylik gebruik word, is die sogenaamde Rooi Mane of Bloedmane. Dit verwys maar net na volle maansverduisterings wat in elk geval op 'n gereelde basis voorkom en toevallig nou vier keer na mekaar voorkom sonder enige gedeeltelike verduistering tussenin, vanaf April vanjaar tot Oktober 2015.
Selfs so 'n viertal gebeur op 'n gereelde basis, maar dit word graag gekoppel aan groot gebeurtenisse en voorspellings wat sterk herinner aan sterrewiggelary (Astrologie).
Interessant genoeg is dat altwee 'tekens' wat in April en Oktober 2014 voorkom, nie eers van Suid-Afrika (of Israel) af sigbaar is nie, aangesien dit gedurende ons dag gebeur wanneer die maan lankal onder gegaan het.
Dit is juis hier waar die Rooi Maan-beskrywing verwarring veroorsaak omdat baie mense die maan rooi sien ondergaan as gevolg van stof en rook in die atmosfeer, terwyl dit niks met die verduistering te doen het nie. Selfs die son gaan dikwels rooi onder.
Lesers word aangemoedig om die volmaan se grootte te vergelyk met vaste voorwerpe soos torings en geboue ens - en neem foto's!
Van 2 tot 9 Augustus is juis Nasionale Wetenskapweek waartydens baie uitreik-aksies van stapel gestuur word, veral in Sterrekunde.

Perigeum of die sogenaamde 'supermaan' sal Sondagaand waargeneem kan word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'