RIVERSDAL NUUS - Hoe het ons oorleef voor elektrisiteit destyds in die sestigerjare in ons plaashuise aangelê is?
Suid-Kaap Forum het met 'n paar inwoners van Droom se Ou Meule-tehuis vir bejaardes gesels oor wat hulle van daardie jare onthou.
Stella en Jim Bosman onthou hoe die wasgoed Maandae buite op 'n plank in 'n sinkbad gewas is. Dinsdae is die swart strykysters op die koolstoof verhit voor daar gestryk kon word.
Die 'yskas' was 'n koelkamer met 'n dubbele muur met gate in wat die lug kon deurlaat. "Bees- en skaapvleis het niks oorgekom terwyl dit daarin gebêre is nie. Ons is nie dood nie, so dit moes gewerk het," vertel Stella. Eers toe sy op Bethal gaan woon, was daar elektriese ligte en 'n telefoon in die huis. "Ons het selfs 'n yskas gekry - dit was 'n vreeslike ding, want ons het nie geweet hoe dit werk nie!"
"Water is op die swartstoof warm gemaak sodat ons in die sinkbad voor die stoof kon bad," vertel Marthie Norden, wat by Lindley in die Vrystaat grootgeword het. Eers later het hulle 'n donkie, 'n toegemesselde drom waaronder 'n houtvuur gemaak is, gekry. Stella vertel ook dat hulle van die oudste tot die jongste in die sinkbad voor die stoof gebad het.
Saans moes Marthie-hulle help brood knie wat mamma vroegoggend in die koolstoof gebak het. En soggens het die dogters beurte gemaak om die primusstofie te pomp tot die vlam sissend brand vir koffiewater.
Huiswerk is saans by kerslig gedoen, maar daar is ook skelm boek gelees – tot pappa gesê het: 'Blaas dood die kers, dit kos geld.' Daardie jare se kerse was baie harder en het langer gebrand," vertel Marthie.
Santie Botes onthou hoe lekker daai dae was. Sy onthou veral hoe hulle 10 dae lank vakansie gaan hou en lekker vleis geëet het wat haar ma in harde bees- of skaapvet in 'n fles of 'n wit emalje-emmer met 'n deksel ingelê het.
Sy onthou ook hoe knolgewasse soos aartappels en wortels in 'n gat in die grond onder 'n koelteboom begrawe is en só lank vars gebly het. Gedroogte en gepekelde vleis is ook in 'n houtkassie met sifdraad weerskante gebêre. "Die kassie het dubbele houtwande met steenkool tussenin gehad wat ons soggens moes natgooi." Sy meen sy sal maklik sonder elektrisiteit aanpas. "Met die wysheid van bo sal 'n mens baie planne kan maak."
Frikkie en Marthie Norden: "Huiswerk is saans by kerslig gedoen, maar daar is ook skelm boek gelees..." Foto's: Tisha Steyn
Santie Botes: "Vleis is met harde bees- of skaapvet in 'n fles of emalje-emmer ingelê."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'