Update
HESSEQUA NUUS - 'n Twaalfjaar oue kraantrok (Cherry Picker) is vir slegs R10 aan die Kannaland-munisipaliteit verkoop.
Die oorhandigingseremonie het Woensdag, 14 Oktober by die Riversdal-kragstasie plaasgevind.
Oor dié winskopie sê Didi Budricks, kommunikasiebeampte vir Hessequa-munisipaliteit dat die besluit eenparig deur die munisipale raad geneem is."Dit volg na verskeie geleenthede waar Hessequa hulp aan Kannaland-munisipaliteit verleen het om noodherstelwerk op hul elektrisiteitsnetwerk uit te voer. Hulp wat tot dusver aan hulle verleen is, is onder andere die gebruik van die kraantrok, mannekrag en onderdele."
Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het op 20 Julie sy dank en waardering teenoor Hessequa-munisipaliteit uitgespreek vir die ingryping in Kannaland en versoek dat die munisipale raad die kraantrok aan hulle skenk.
Hessequa beskik reeds oor 'n nuwe viertrek kraantrok wat gedurende die 2019/20-boekjaar aangekoop is.
Hessequa se direkteur tegniese dienste, Ruschan Manho sê die verkoop van die kraantrok sal op die lang duur voordelig wees, omdat dit die munisipaliteit bespaar op die herstel en onderhoudskostes van die 12 jaar oue gespesialiseerde kraantrok.
Kannaland se speaker van die raad, Aletta Theron en die munisipale bestuurder, Reynold Stevens het hul dank teenoor Hessequa-munisipaliteit uitgespreek. Volgens hulle is die gebaar en gesindheid 'n uitstekende voorbeeld van inter-regering samewerking tussen twee buurmunisipaliteite.
Uitvoerende burgemeester, Grant Riddles het beklemtoon dat Hessequa graag na mede-munisipaliteite uitreik.
Verteenwoordigers tydens die oorhandiging het opgemerk dat die kragstasie se ou dieselopwekkers, wat steeds tydens kragonderbrekings elektrisiteit aan groot gedeeltes van Riversdal voorsien weens goeie instandhouding in 'n uitstekende werkende toestand is na bykans 70 jaar in gebruik.
Verteenwoordigers van die Hessequa- en Kannaland-munisipaliteite tydens die oorhandiging van die kraantrok. In die middel staan Hessequa se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, Kannaland se speaker, Aletta Theron en Hessequa se speaker, Andrew Stroebel.
Die kraantrok wat vir R10 aan Kannaland-munisipaliteit verkoop is.
Vorige artikel: Hessequa verkwansel kraantrok vir R10
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'