SLANGRIVIER NUUS - Heidelberg-polisie onder leiding van sers. Imorgene Hendricks, plaaslike media- en sosiale beampte, het op Vrydag 11 November hul jaarlikse 16 dae van aktivisme teen geslagsgeweld van vroue, kinders en gestremdes geloods.
Vanjaar het hulle dit in samewerking met die plaaslike E-sentrum en biblioteek by Slangrivier Primêre Skool afgeskop.
Die leerders is deur Hendricks asook ander sprekers toegespreek oor wat hul regte asook pligte is, veral ten opsigte van geslagsgeweld.
Die leerders is ook aangemoedig om nie mekaar te boelie nie en indien daar enige afknouery van enige aard is, dit onmiddellik aan te spreek met die verskeie leiers by die skool of in die gemeenskap.
Die verrigtinge het by die skool begin waarna die leerders, hul opvoeders asook die personeellede van die biblioteek en E-sentrum met verskeie plakkate deur die dorp gestap het om bewusmaking aan te wakker.
Plakkate met verskeie slagspreuke is deur die leerders op hul staptog rondgeswaai.
Volgens Hendricks het die verrigtinge goed afgeloop en is sy vol vertroue dat die boodskap positief deur die leerders ontvang is.
Die groep leerders van Slangrivier Primêr het baie geesdriftig aan die verrigtinge deelgeneem. Foto: Clive Pretorius
Leerders laat hul stemme weerklank tydens hul optog deur die strate van Slangrivier.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'