Gallery Update Video
ALBERTINIA NUUS - 'n Motoris wat blykbaar probeer het om 'n slang se lewe te red, het 'n veldbrand wat brandbestryders behoorlik laat les opsê het, veroorsaak.
Die brand het Saterdag 9 November omstreeks 16:00 ontstaan toe die motoris wat na bewering vir 'n slang op die pad uitgeswaai het, beheer oor die Renault waarin sy gery het, verloor het. Die motor het omgeslaan en uitgebrand. Sy is ongedeerd.
Die brand in die bloekombos teen die N2 het weens die stormsterkwind wat by tye tot 40 km/h was, vinnig versprei.
Altesaam 2,5 km² het in die slag gebly. Volgens Garden Route-distriksmunisipaliteit (GRDM) is geen mense of vee bedreig nie. Infrastruktuur soos heinings het wel in die slag gebly. Dekgras en weiding is ook verlore.
Deon van Wyk van GRDM-brandweer het 'n duikerooitjie wat ver dragtig was se lewe gered.
"Die ooitjie was paniekbevange en sou nie op haar eie van die vlamme ontsnap nie," vertel Herman Pieters, GRDM se woordvoerder. "Deon het haar kalmeer tot sy hom vertrou het. Hy het haar opgetel en na veiligheid gedra. Sy is op 'n geskikte plek vrygelaat." GRDM se nooddienste, Hessequa-munisipaliteit, die Suid-Kaap Brandbeskermingsagentskap (SCFPA), lede van Working on Fire en lede van die Goukou-plaaswag het bykans 36 uur lank alles in die stryd gewerp om die brandskade te beperk. Hessequa se verkeersafdeling, die Metro-polisie en die provinsiale verkeersowerhede was deurgaans op die toneel om te verseker dat motoriste veilig is. Die N2 is van tyd tot tyd gesluit weens vlamme digby die pad of digte rookwolke wat oor die pad gewaai het.
Die pad is omstreeks 15:00 Sondagmiddag vir verkeer oopgestel. Die brand is eers in die vroeë oggendure van Maandag 11 November onder beheer gebring. Nege brandweerlede en 'n span van 20 Working on Fire-lede het agtergebly om seker te maak dat die smeulende plantmateriaal nie weer opvlam nie.
Kyk 3 video's hieronder:
’n Sterk wind wat gedurig van rigting verander het, het die vuur aangejaag.
Die uitgebrande motorwrak langs die N2. Foto: Tisha Steyn
Lees vorige artikels:
- Hessequa veldbrand onder beheer
- N2 Open for traffic
- N2 gesluit weens brand
- Road closed between Albertinia and Stilbaai
- Brand nog nie geblus nie
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'