RIVERSDAL NUUS - Hessequa Abattoir is 'n bekende besigheid in die streek wat met talle boere elke maand onderhandel.
Nie almal is egter ewe tevrede nie, volgens 'n leser wat Suid-Kaap Forum onlangs met 'n klagte genader het.
Volgens dié skaapboer het hy in November verlede jaar sewe skape gelewer. Vyf is aan die abattoir verkoop, terwyl hy die swaarste twee gemerk het om vir eie gebruik terug te koop.
Volgens sy rekords het hy 'n sekere hoeveelheid vleis verwag, maar die resultaat was minder: "Die uitslaggewig volgens die abattoir werk gemiddeld op 41,5%. Toe ons die sakke vleis weeg was dit onderskeidelik 'n uitslagpersentasie van 26% en 22,5%."
Verder beweer die leser sy navrae is onvoldoende beantwoord: "Toe ek hulle met my rekords gaan sien, sou hulle ondersoek gaan instel het. Hulle sou my Vrydag 6 Desember teruggeskakel het. Dit het nie gebeur nie. Toe ek later bel is aan my gesê hulle maak nie foute nie en beskou die saak as afgehandel."
As deel van die ondersoek het Anton Swart (besturende direkteur) en Eddie Ten Hoope (bestuurder) volle toegang aan Suid-Kaap Forum verleen om hul inboekstelsel en prosesse eerstehands te sien.
Volgens Ten Hoope word 'n ander kode aan privaat gelewerde diere (wat nie aan die abattoir verkoop word nie) toegeken as aan die wat hul eiendom word. Daar kan dus nie maklik verwarring tussen verskillende karkasse ontstaan nie. Verder meen hy dis moeilik om akkuraat te voorspel hoeveel vleis 'n karkas sal oplewer voor die slagwerk klaar is: "Mens kan skat, maar wanneer die vet en ingewande uit die pad is, is dit dikwels 'n heel ander prentjie."
Administratiewe bestuurder, Amelia Ten Hoope, het verduidelik dis nie moontlik om vleis op 'n manier terug te hou nie: "Vir elke dier wat hier afgelaai word, word 'n vorm met alle besonderhede dadelik voltooi en op ons rekenaarstelsel ingevoer met 'n unieke staafkode. Daardie kode met al sy rekords kan gespoor word tot by die groothandelaar waar die vleis uiteindelik verkoop is."
Ten opsigte van navrae sê sy alles word beantwoord. Dit neem tyd omdat elke rekord vir die dag deurgegaan moet word, maar hulle het volle vertroue in hul stelsel wat dit onwaarskynlik maak dat sulke foute kan insluip.
Eddie Ten Hoope wys die staafkode-etikette op die karkasse.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'