RIVERSDAL NUUS - Goukam Health APD is 'n nie-winsgewende organisasie wat veral na mense met spesiale behoeftes omsien.
Hulle het staatshulp ontvang, maar dit is met meer as die helfte gesny.
Omdat Goukam nou elke sent broodnodig het, reël Snyman Boumateriale en Jack's Paint 'n opvoering met die sanger, Gert Zandberg. Geld wat daardie aand ingesamel word sal aan Goukam geskenk word.
Dié opvoering sal by die Dam Restaurant op Saterdag 6 Oktober plaasvind. Neem jou mandjie saam en geniet 'n lekker kuieraand vir 'n goeie doel.
'n Donasie word gevra vir toegang teen R60 vir 'n galery- of stoepkaartjie en R100 vir tafelsitplek. Donasies kan by Snyman Boumateriale, Jack's Paint en Riversdal Juweliers afgegee word en sal donateurs 'n kaartjie as bewys ontvang.
Goukam sal van hul eie handewerk opveil om ook sodoende geld in te samel. Persone wat items vir dié veiling wil skenk is meer as welkom.
Illze Olivier, bestuurder, het verduidelik: "Dit is onmoontlik om almal te help sonder staatshulp en hulp van die gemeenskap. Ons probeer om uitkoms vir die voetsool mense, die armes van die armes te bring. Goukam het verskillende afdelings: Die huis word as 'n rehabilitasiesentrum of 'step down' gebruik. Dit is vir mense wat na 'n ongeluk of operasie moet herstel. In die werkswinkels leer ons mense met spesiale behoeftes nuwe vaardighede. Dit wat hulle maak sal ons ook later verkoop om geld vir Goukam in te samel."
Enige ander donasies is ook welkom waaronder seep, sjampoe, waslappe, klere, tandepasta en selfs ou tydskrifte. Omdat Goukam so gereeld werkswinkels aanbied het hulle die hulp van mense nodig wat bereid is om gratis klas aan te bied.
Vir meer inligting of navrae skakel Julandie by 028 713 1321.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'