RIVERSDAL NUUS - 52 eenhede bloed is Donderdag 2 Junie deur plaaslike inwoners by die Westelike Provinsie Bloedoortappingsdiens (WPBD) se maandelikse kliniek in die burgersentrum geskenk.
Altesame 63 inwoners het die kliniek bygewoon. Onder hulle was ses nuwe en 48 gereelde skenkers, terwyl nege mense weggewys is wat weens siekte of op medikasie was.
Arlecia November van die WPBD het aan Suid-Kaap Forum gesê mense wat bloed skenk help om lewens te red.
"Wanneer jy bloed skenk, kry pasiënte wat op 'n bloedoortapping wag 'n geskenk wat geld nie kan koop of die mediese wetenskap nie kan vervaardig nie. Bloed is so uniek in sy samestelling dat daar geen beskikbare plaasvervanger daarvoor is nie en dit kan ook nie gedupliseer word nie, juis weens die kompleksiteit daarvan."
Katrina Amsterdam het haar 32ste verjaarsdag gevier deur ook bloed te skenk. Foto's: Hugo Redelinghuys
Arlecia sê een eenheid bloed kan tot drie lewens red aangesien dit in drie dele - rooibloedselle, bloedplasma en bloedplaatjies - geskei word.
"Daar is 'n voortdurende aanvraag vir bloed en in sekere skaars bloedgroepe is daar 'n nypende tekort. Bloed is uiters noodsaaklik om pasiënte te help om operasies te oorleef. Kankerpasiënte benodig ook baie bloed, sowel as diegene met kroniese siektes en traumatiese beserings.
"Ongeveer 75% van die Suid-Afrikaanse bevolking is potensiële skenkers, maar ongeveer 1,5% van ouderdomsgeskikte mense skenk wel bloed."
As jy tussen die ouderdomme van 16 en 75 jaar is, minstens 50 kg weeg, goeie gesondheid geniet en 'n veilige sekslewe handhaaf, kan jy bloed skenk.
"Bloedskenk is veilig, sonder ongemak of pyn, en daar is geen risiko vir infeksies nie. Die hele proses duur ongeveer 20 minute waarna 'n skenker onmiddellik sy daaglikse aktiwiteite kan hervat. Die bloed wat jy skenk word gou weer vervang."
Mylpaal wink. Gordon Waring het sy 99ste eenheid bloed geskenk.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'