HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Abduraghman Adams oftewel Ian Oktober van die sepie Suidooster glo die jeug moet na die kunste teruggeroep word.
Hy het Vrydag 28 en Saterdag 29 Februarie 'n drama-werksessie vir sowat 50 jong mense op die dorp aangebied.
Vrydagmiddag se verrigtinge is in die kerksaal en Saterdagoggend s'n in die Kairos-skoolsaal aangebied. Verskillende fasette van drama soos toneelspel, regie, stem-afrigting, teatertegnieke, teksskryf en 'film screening' is behandel.
Die eintlike vertolking van 'n karakter was die hoogtepunt vir almal. Eers in groepe van twee en daarna vyf moes leerders binne tien minute 'n voorgeskrewe tema interpreteer, rolle verdeel, oefen en vertolk. Dit was groot pret, want hulle het voor die kameras gespeel. Waar daar Vrydagmiddag baie kinders was wat skugter en skaam was om voor ander op te tree, was daar teen Saterdagoggend baie meer vrymoedigheid.
Tegnieke is oor en oor verduidelik en geoefen voor oorgegaan is na voordrag. 'n Groep moes soms tot drie keer hul voordrag doen, terwyl Adams hier en daar verstellings gemaak en iets verduidelik het. Die tweede en derde keer was altyd 'n merkbare verbetering. En wie sê so? Die gehoor van spelers wat wag op hul beurt sê self of hulle in jou karakter glo of nie. Die gehoor kon sê waar 'n karakter kon verbeter of wie te sag of te hard gepraat het. Die hele oefening was een van 'ons-leer-mekaar'. Een deelnemer was selfs vir 'n uur lank self agter die kamera.
Kyk 'n video hieronder.
Volgens Adams is hy baie beïndruk met die talent van Heidelberg se jeug en sien 'n goeie toekoms vir die jong akteurs wink. Hy sê hy probeer in werkswinkels om aspirant-akteurs die hele spektrum van die teaterwêreld te wys. Hy het van sy Manenberg township-agtergrond vertel, waar daar nie baie hulp vir aspirant-akteurs was nie: "Ek het in protes-teater op skool begin en daarvandaan my paadjie oopgekap tot waar ek nou is. Ek het geleer daar's baie fasette van die verhoogkuns wat bestudeer kan word. Ek het gesien daar's kanse vir almal. Dis een van die groot redes hoekom besoeke aan jong mense in plekke soos Heidelberg vir my so belangrik is. Die talent is daar! Dit het net 'n hupstootjie nodig om op die verhoog te kom en gesien te word."
Perseville Moses wat die werksessie bygewoon het, sê: "Vir my was die naweek baie inspirerend. Na hoërskool is my eerste keuse landbou-studies, en tweedens drama."
Teen Saterdagmiddag was dit 'n moeë groep kinders en ewe moeë groep fasiliteerders wat die verrigtinge afgesluit het.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'