ALBERTINIA NUUS - 'n Inwoner, Fred Carelse, kla oor 'n selfoontoring wat in 'n woongebied opgerig is en blykbaar sy en sy familie se gesondheid nadelig beïnvloed.
Volgens hom is prosedures nie nagekom nie en die selfoontoring is in Vriesstraat opgerig sonder dat enige skriftelike toestemming vooraf van inwoners verkry is.
Die toring is slegs 9,350 m vanaf sy woning tot teenaan die grensheining opgerig. Hy noem dat dit 'n groot menslike gesondheidsrisiko en mense se lewe word in gevaar gestel.
"Die geweldige seine van die selfoonnetwerk-opvangstoring veroorsaak erge hoofpyn, naarheid en min slaap gedurende die nag. Dit het 'n geweldige uitwerking op die liggaam." Sy vrou het glo ook siek geword van die seine, maar tydens die beurtkrag wat Eskom ingestel het, kon hulle duidelike verligting voel.
Carelse het by die landdroshof aansoek gedoen dat die munisipaliteit verbied word om krag aan die selfoonnetwerk te verskaf. Op Suid-Kaap Forum se navraag hieroor het Susan Geldenhuys, munisipale woordvoerder, gesê dat Carelse se aansoek om 'n gebiedende interdik in Albertinia se landdroshof te verkry, van die hand gewys is.
Dokumente wat deur Carelse self aan die koerant gestuur is, het dit bevestig, hoewel hy beweer dat die landdros dit nie wou hanteer nie ..."aangesien landdros LD Strydom 'n botsende belang het by 'n interim-bevel wat hy aan Hessequa-munisipaliteit toegestaan het oor 'n sinkstruktuur van 'n inwoner." Carelse het die onuitgereikte hofstukke aan die griffier van die hooggeregshof gestuur.
Johan Jacobs, Hessequa munisipale bestuurder, het genoem dat hulle eers 'n besluit sal kan neem wanneer hulle hofstukke wat deur die griffier uitgereik is, ontvang. "Daarna sal ons besluit of ons sy aansoek sal teenstaan of nie."
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'