Update
STILBAAI NUUS - Wanneer mens Albertus Scholtz (73) rustig in sy gemakstoel sien sit en hoor hoe positief hy oor die lewe gesels en uitvra oor ander se welstand, is dit moeilik om te dink dat dit reeds 'n kwarteeu gelede is dat hy 'n hartoorplanting ondergaan het.
Vanjaar, soos die afgelope paar jaar het vriende en familie tesame met sy vrou Jeannie, met wie hy reeds 43 jaar getroud is, dié mylpaal in sy lewe gevier deur 'n spesiale geselligheid te hou.
Hul seun Ignatius kon ongelukkig nie die geleentheid bywoon nie aangesien hy by sy skoonfamilie in Rusland kuier.
Dit was veral Frieda en Kosie Jordaan wat in 1993 vreemdelinge vir hom was, maar hom in hul huis in die Kaap ingeneem het terwyl hy vir 'n geskikte hart gewag het, asook pastoor Nico Botha en sy vrou, Abeline, wat hom deur dié tyd bygestaan het en goeie vriende geword het, wat wéér vir vanjaar se herdenkingsgeleentheid van die Kaap gekom het en die geleentheid selfs meer spesiaal gemaak het.
Soos die afgelope paar jare word 'n groot koek gebak wat sy lewe nou uitbeeld, waarin almal kan deel om sy lewe te vier. Op 22 Junie 1993, Vrydag presies 25 jaar gelede, het Albertus 'n volledige hartoorplanting in die Grootte Schuur-hospitaal ondergaan. Dié nuwe hart klop steeds sterk, wat 'n wonderwerk onder hartoorplantingspasiënte is omdat daar min is wat selfs die 10 jaar-kerf verbysteek.
Rumatiekkoors en hoë bloeddruk was deel van Albertus se lewe as kind en op 45-jarige ouderdom het hy reeds sewe hartaanvalle oorleef, asook 'n beroerte wat hom gedeeltelik verlam het.
Die hartoorplanting het gevolg nadat hy in 1991 'n drielyn-hartomleidingsoperasie ondergaan het, maar nadat hy nog twee hartaanvalle oorleef het, is hy vir 'n hartoorplanting gekeur. Hy was twee maande op die waglys voor 'n geskikte skenkerhart gevind is.
Sy onwrikbare geloof het hom en sy familie deur die moeilike tye gedra en vandag dra hy die boodskap van die belangrikheid van orgaanskenking oor. Meer as 4 300 mense in Suid-Afrika is vandag op 'n waglys vir 'n orgaan- of korneaoorplanting, terwyl ongeveer 35 000 wag vir weefseloorplantings, wat insluit korneas, been, hartkleppe, vel en verwante sagte weefsel. Minder as 800 pasiënte sal nie vanjaar die orgaan kry wat hulle benodig nie.
Danksy die werk van kardiale chirurge soos dr. Koen, wat reeds vir sowat 13 jaar kunsmatige harte in pasiënte met hartkwale gebruik, is daar nuwe hoop vir dié pasiënte. Koen het in 2001 die eerste Suid-Afrikaanse chirurg geword wat 'n kunsmatige hart in die bors van 'n 60-jarige man ingeplant het.
Toe prof. Chris Barnard in 1967 'n hart in die Grootte Schuur oorgeplant het, het dit die wêreld se siening van orgaanoorplanting vir altyd verander.
Albertus is in 2017 met kanker gediagnoseer en moet binnekort weer 'n veloorplanting op sy skedel ontvang. Selfs dit hanteer hy met sy uitkyk op die lewe dat hy nie terugkyk nie en vir vandag lewe, terwyl hy weet dat die Here vir hom in sy toekoms wag. Die boodskap van orgaanskenking is egter vir hom 'n ernstige saak.
• Om meer uit te vind oor orgaanskenking of om 'n orgaanskenker te word, besoek die webtuiste.
Lees 'n vorige artikel: 73-jarige se hart nou 25
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'