HEIDELBERG NUUS - 'n Jong polisiekonstabel, Johannes Paige (22), het Maandagoggend 16 Oktober in die plaaslike landdroshof verskyn nadat 'n jong ma noodlottig beseer is toe die bakkie wat hy bestuur het, die pad verlaat en omgeslaan het.
Die voorval het Saterdag 14 Oktober ongeveer 02:30 op die N2 net voor die Duivenhoksrivierbrug buite die dorp plaasgevind.
Die polisie ondersoek 'n klag van strafbare manslag, asook bestuur van motorvoertuig vermoedelik onder die invloed van sterk drank. Paige beskik slegs oor 'n leerlinglisensie.
Hy is op borgtog vrygelaat en verskyn weer op 24 Januarie 2018.
Die 28-jarige oorledene, Loricha Jacobs, 'n rekenmeester en ma van 'n vyfjarige seun, is glo op slag dood nadat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
Sy was saam met Paige, haar neef Duvon Jacobs en nog drie vriende op die vooraand van haar ma, Cecelia Michaels en Jacobs se 50ste verjaarsdag en mondigwordingsvieringe.
Die Ford Bantam-bakkie is afgeskryf.
Die Jacobs-familie sou Saterdagaand die twee verjaarsdae gevier het, maar is nou in rou gedompel.
Volgens die plaaslike polisie was die groep op pad huis toe. Die oorsaak van die ongeluk kon nog nie bevestig word nie.
Buiten Jacobs wat ernstige beserings aan sy linkerhand opgedoen het, het die ander vier minder ernstige beserings opgedoen. Jacobs was in die George-hospitaal om die senings aan sy hand vas te heg.
Jacobs laat haar ma, haar kind, stiefpa Mario Michaels en ouma, Annette Sampson agter.
Die toneel waar die voorval plaasgevind het.
Die begrafnisdiens vind Saterdag 21 Oktober om 09:00 vanaf die huis in Youngsirkel plaas en daarna om 10:00 vanuit die plaaslike VG Kerk in Haigstraat.
Dit word met 'n roudiens Donderdagaand 19 Oktober in die Duivenhoks-gemeenskapsaal voorafgegaan.
Lees 'n vorige artikel: Polisielid agter tralies na ongeluk
ARTIKEL EN FOTO'S: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'