Update
RIVERSDAL NUUS - "'n Kind wat vra is werklik honger en wanneer my kind vir my kom vra, kan ek nie vir hom 'n klip gee nie."
So vertel Sally Hartnick. Dit het haar gemotiveer om 'n sopkombuis sedert 2006 vanuit haar huis te bedryf.
Sy het reeds 'n hartklepvervanging in 2005 gehad en daarna nog twee hartoperasies.
"Ek was in 2007 so siek na my derde operasie dat my ma moes help om die potte aan die kook te hou.
"Ek het nie in 'n bondeltjie gaan sit en myself jammer gekry nie. Ek het opgestaan met die wete dat ek 'n tweede kans gekry het."
Hoewel sy steeds medikasie vir haar hartkwaal moet drink sorg sy steeds dat behoeftige kinders en bejaardes twee maal 'n week sop kry.
Tans gee sy vir tussen 40 en 60 kinders en vyf bejaardes sop. Die bejaardes kan nie meer vir hulself sorg nie.
Freddy Hartnick en Chris Taute het haar destyds genader vir hulp om kos vir minderbevoorregte kinders voor te berei.
Sy is met bestanddele, 'n gaskannetjie en gas voorsien. Later het sy dit op haar eie begin bestuur.
"Ek loop self deur die rivier om hout te gaan haal en kap dit dan fyn op om in die koker te pas wat ek nou gebruik.
"My eie stoof is al moeg gekook. Daar is al tweeplaatstofies geskenk, maar na vyf maande is dit tot nuut.
"Ek het later tot groente geplant en met die groente uit my tuin sop gekook."
Sjoe, maar dié sop is lekker...
Hongermondjies word twee dae in 'n week kos gegee hoewel die behoefte groter is.
Sal Carter het van dié sopkombuis te hore gekom. Sy het vriende en gemeentelede gevra om te help deur 'n pot sop te kook en vir Sally te neem.
Elke week het twee persone om die beurt sop gekook. Daar is nog net 'n paar vriende oor wat help en daarom moet Sally weer uit haar sak ook voorsien.
Carter het gesê: "Daar is net 'n paar mense wat die projek ondersteun, ons is baie dankbaar vir hulle. Indien daar mense is wat donasies kan maak sal dit baie help. Dit sal van nog groter hulp wees indien hul self die sop kan kook.
Sally Hartnick staan by 'n groepie kinders wat gereeld sop en 'n snytjie brood kom haal.
"Mense wat die projek wil ondersteun is meer as welkom om te gaan kyk wanneer kinders sop kry."
"Ek is lief daarvoor om te help en sal my laaste gee, veral wanneer dit by kinders kom. Met my gesondheid en stowe wat so ingegee het wou ek op 'n stadium nie meer aan gaan nie.
"Almal het kom vra en ek het besef dat ek nie my taak kan staak nie."
Die kinders se ouers wil nie met die projek help nie en die bejaardes is te swak. Selfs toe sy nog elke dag gewerk het, het sy voorsien.
Kinders wat in die ry kom staan is tussen drie en 14 jaar oud.
Jacob Pieterse en Hanna Thyse stil gereeld hul honger deur by Sally se sopkombuis kos te gaan haal. Hier staan Sally (middel) by Pieterse en Thyse.
Sally se sopkombuis kan nie voortbestaan sonder die hulp van die publiek nie.
Sy het geld nodig vir bestanddele en om krag te koop vir wanneer sy haar stoof gebruik.
Enige groente, sopmengsels, sopbene, brood, margarine wat gebruik kan word is welkom.
Mense wat met donasies of geld kan help kan vir Sal Carter skakel by 079 519 2221 of Sally 079 106 0629.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'