Die 'Groot Viseet' wat deur die Stilbaai Sakekamer, met die ondersteuning van baie helpers aangebied is om fondse in te samel vir die Jagersbosch Gemeenskapsorgsentrum, het almal se stoutste verwagtinge oortref.
Bykans 300 mense het die Stilbaai Gemeenskapsaal volgepak en moes daar nog tafels aangery word om almal te akkommodeer.
Die grootste pluspunt van die aand was die gesellige saamkuier tussen die gaste uit Stilbaai, Melkhoutfontein en Jongensfontein.
Meer as enigiets anders het die positiewe en lighartige gees wat daar geheers het die sukses van die aand verseker.
Heelwat moeite was gedoen om 'n groot verskeidenheid van visdisse aan te bied en vele komplimente oor die goeie gehalte daarvan is ontvang.
Afslaer Duncan Latsky was op sy stukke en het sommer gou 'n hele paar duisend rand bymekaar gemaak op die paar bottels uitsonderlike wyn wat aangebied is. Die Stilbaai Lionsklub het 'n voortreflike kroegdiens aangebied wat gehelp het om die geselligheid nog vroliker te maak. Dit is nie aldag dat die sakemanne/vroue die geleentheid het om hul waardering te betoon aan die gemeenskap van wie hul voortbestaan op Stilbaai afhanklik is nie.
Derhalwe is daar groot dankbaarheid by die Stilbaai Sakekamer dat die geleentheid so suksesvol afgeloop het. 'n Groot dankie gaan uit aan almal buite die sakekamer vir hul harde werk om die sukses van die aand te verseker. Die somme word nog gemaak en sodra al die kaartjieverkope en uitgawes bereken is, sal die bedrag wat ingesamel is aangekondig word.
(Uitgereik deur die Stilbaai Sakekamer).

By die 300 inwoners het Vrydagaand die Stilbaai Sakekamer se 'Groot viseet' bygewoon.