STILBAAI NUUS - Die plaaslike sakekamer se nuwe komitee is Dinsdag 17 April tydens sy algemene jaarvergadering by die gholfklub verkies.
Vyf van die bestaande bestuurslede is herverkies, naamlik Rean Pretorius (voorsitter), Willie Delport, Johan Kriek, Philip Pansegrouw en Johannes van Zyl. Die nuwe lede is Rachel Wall, Lizette de Necker, Alida Roos en Elza Thiart-Botes.
Tydens die vergadering het die komitee ook hul nuwe logo, hul leuse (In die hart van besigheid en welsyn van die gemeenskap), asook hul visie en missie aan lede van die sakekamer en belangstellendes bekendgestel.
Dit is hul visie om te inspireer en te voldoen aan die behoeftes van hul lede, terwyl hul missie is om die belange van hul lede te bevorder deur innoverende ondersteuning en dienste te lewer wat die lede (besighede) se sukses en volhoubaarheid sal versterk, om sodoende die welvaart en geleenthede vir die inwoners van Stilbaai en omliggende gebiede te bevorder.
Die sakekamer was gedurende 2017 by verskeie projekte betrokke, wat ingesluit het 'n gala-aand, waar besighede prestige toekennings ontvang het terwyl hulle wéér die jaarlikse Groot Visete ten bate van Jagersbosch aangebied het.
Die nuwe komitee is van links: Willie Delport, Alida Roos, Philip Pansegrouw, Rachel Wall, Rean Pretorius, Lizette de Necker, Johannes van Zyl, Elza Thiart-Botes en Johan Kriek. Foto: Richard Webb
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'