STILBAAI NUUS - Die plaaslike sakekamer se toewyding het op Donderdagaand 5 September vrugte afgewerp toe hulle as die AHI se Wes-Kaap sakekamer van die jaar aangewys is.
Die toekenning is tydens die AHI se jaarlikse kongres op Velddrif oorhandig.
Voorsitter Rachel Wall en ondervoorsitter Tertius Haak skryf die sakekamer se sukses aan die toewyding van die bestuurspan en doeltreffende bestuursprosesse toe. Hulle verduidelik dat in 2017 besluit is om die klem vanaf 'n aktiwiteitsgedrewe organisasie na die lewering van gefokusde en volhoubare bydraes aan die sakegemeenskap te verskuif.
Na 'n proses wat etlike maande geduur het is 'n strategie met kort, medium en langtermynplanne wat oor drie jaar strek opgestel. Dié planne word nou uitgevoer.
David en Mariella Kairuz het met 'n toekenning as beste nuwe entrepreneur van die jaar weggestap. Hulle het hul onderneming binne 'n paar maande as gewilde eetplek vir inwoners en besoekers gevestig.
Volgens Wall wil die huidige bestuur die toekenning opdra aan alle vorige bestuurslede wat die fondasie waarop hulle kan voortbou vir die volgende geslag gelê het.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'