RIVERSDAL NUUS - Die elektriese defek by die rioolpompstasie op Riversdal is volgens Hessequa-munisipaliteit dadelik aangespreek en aksie geneem.
Luidens ’n persverklaring is die klein hoeveelheid riool wat in die omringende omgewing gestort is, vinnig opgeruim en gesaniteer, met geen kontaminasie van die Goukourivier se water nie.
“Geen riool is in die rivier gestort nie,” lui die verklaring.
Noodsaaklike opruimingsaksie is binne ’n uur geloods vandat die elektroniese fout deur die tegniese afdeling opgetel was en is tegniese ondersteuning vanaf Heidelberg ingebring om die opruimingsaksie so spoedig as moontlik te voltooi.
Die munisipale bestuurder, Johan Jacobs noem dat daar ongelukkig altyd ’n risiko bestaan dat toerusting kan faal, maar weens die spoedige reaksie van die munisipaliteit is daar geen gevaar of risiko van besoedeling nie.
“Die opgradering van die rioolwerke word in fases uitgerol en oor ’n paar finansiële jare uitgevoer. Hierdie opgraderings word grootliks deur munisipale infrastruktuur toekennings befonds (nasionale fondse en kapitaal toelaes wat spesifiek vir munisipale infrastruktuur projekte aangewend word.) Die pompstasie ter sprake vorm deel van hierdie opgraderingsprojek.”
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'