RIVERSDAL NUUS - Roofverdagte sit nog
Die verdagte in die roofsaak waarin Jandré Steyn van Oudtshoorn beroof is bly in aanhouding tot die volgende verskyning.
Steyn, 'n besoeker wat vir 'n begrafnis op die dorp was, is Saterdagoggend 12 Augustus beroof. 'n Verdagte is gearresteer en het op 14 Augustus in die Riversdal-landdroshof verskyn.
Die verdagte, Heinrich Heineke (26) het Maandag 21 Augustus vir 'n borgtogaansoek verskyn, maar die saak is uitgestel vir 'n korrektiewe verslag. Heineke het Woensdag 23 Augustus weer verskyn. Teen druktyd was geen verdere inligting rondom die saak bekend nie.
Jong paartjie beroof
Antonie Hendricks en sy meisie is Saterdagoggend 19 Augustus om ongeveer 13:30 vanuit die dorp op pad na hul woning beroof.
Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder, sers. Edwina Heskwa, is die klaer en sy meisie by die spooroorgang deur drie onbekende manspersone wat hul agtervolg het, oorval. "Die meisie is gegryp en 'n mes is teen die klaer se nek gehou waarna hy van sy selfoon en kontant beroof is."
Niemand is op hierdie stadium gearresteer nie. 'n Saak van roof word ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'