RIVERSDAL NUUS - Hanco Ellis (16) is lief vir tuinwerk, groente plant en het onlangs 'n botterskorsie bykans groter as sy eie kop uit sy groentetuin gehaal.
Dié formidabele skorsie weeg 1,97 kg en het binne net twee weke tot die grootte gegroei.
Volgens hom moet jy sorg dat al die bossies uitgetrek word en die skorsies moet genoeg water kry.
Hanco vertel: "Die pampoene is geplant waar daar 'n ou skaapkraal was. Die grond is baie vrugbaar en dit is rooigrond.
"Ek is nog altyd lief vir tuinmaak en hou daarvan om veral die groentetuin skoon te hou en om te sien hoe die groente se groei vorder."
Daar groei tans 'n paar verskillende soort pampoene in sy tuin. Saam met die pampoene is daar aartappels, uie en bone.
Wanneer hy nie in die groentetuin skoffel nie, hengel hy graag en hou homself met 'n metaalopsporingtoestel besig.
Hy het al 'n muntstuk wat uit die 1700's dateer ontdek.
Hanco wil graag eendag met beeste boer en glo dat hy altyd groente sal plant.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'