Gallery Update Video
HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Al het die reën wat sedert die naweek val die hitte gebreek en die damvlakke laat styg, is die droogte nog lank nie verby nie.
"Die liewe Vader weet ons het hierdie sagte, deurdringende en aanhoudende reën nodig, want met donderstorms sou die water net see toe geloop het," sê Louis van Dyk, bestuurder van die Korente-Vetterivier-besproeiingsraad wat die Korentepoortdam se water bestuur.
Dié dam se vlak was Dinsdag 53,5% nadat dit verlede week 36,5% was.
Volgens die amptelike reënvalverslag het dit sedert Vrydagnag 17 Januarie tot Maandagoggend altesaam 114 mm in die dam se opvanggebied gereën.
Volgens Van Dyk het reënmeters in die Langeberg bokant Garciapas en by Kristalkloof teen Dinsdagoggend reeds sowat 190 mm gemeet. Die Klein-Vetterivier by die Steg het sterk geloop, terwyl die Vetterivier onderkant Garciapas die Novo-laagwaterbrug oorstroom het.
Maar volgens Van Dyk het die reën die oppervlak, wat deur vier jaar se droogte heeltemal uitgedroog is, net sowat 10 cm binnegedring. "Afhangend van wat die boere geplant het, gaan dit weiding tot ses weke neem om te herstel, mits ons opvolgreën kry."
Fotogalery: Hessequa damvlakke styg
Terwyl die rivier afkom bly die dam se sluise toe en die water wat oor die Novo-keerwal vloei word aan ingelyste boere langs die twee kanaalstelsels toegewys sodat hulle hul opgaardamme kan volmaak. Die water word nie gratis verskaf nie, maar teen 'n verminderde tarief verkoop.
"Die ideaal is dat die dam se vlak teen die winter op meer as 80% kan wees. Dan kan ons op die eerste goeie somer in vier jaar reken. Dit sal baie goed vir die streek se ekonomie wees."
Die Duivenhoksdam, waarvan die vlak verlede week op 39% was, was Maandagaand 87% vol. "Ons verwag dat die dam teen Woensdagoggend gaan oorloop," sê Kobus Willemse, 'n boer van Heidelberg. "By my op die plaas het dit 36 mm gereën, maar ek hoor in die berg het amper 100 mm geval."
Kyk 'n video hieronder:
Ten spyte van die reën bly waterbeperkings in die streek van krag.
Die wydverspreide reën het ook elders in die Suid-Kaap groot verligting gebring. Volgens Agri Wes-Kaap loop die Buffeljagsdam by Swellendam oor; so ook vir die eerste keer in jare riviere soos die Langtou by Herbertsdale en die Gouritsrivier.
"Die totale Breërivier/Riviersonderend-sisteem het baie water gekry," sê Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap. "Die meeste damme van die Langeberg-gebied tot by Mosselbaai het water gekry, wat beteken produsente het besproeiingswater wat hulle vir 'n lang tyd nie gehad het nie."
Dit sluit egter nie gebiede in die Klein- en Sentraal-Karoo van Oudtshoorn, Calitzdorp, Montagu en Barrydale in nie. "Opvolgreën in hierdie streke is krities nodig vir plaas- en opgaardamme en vir die natuurlike weiding om te herstel. In die Klein-Karoo hou ons duimvas vir genoeg reën in die berge vir riviere om te loop." Intussen hou Agri Wes-Kaap vol met droogtehulp waar hulle kan.
Lees 'n vorige artikel: Reën laat damvlakke styg
Levels of major dams in Hessequa have increased dramatically following good rains.
The level of the Korentepoort Dam increased from 36,5% a week ago to 53% on Tuesday, while the level of the Duivenhoks Dam increased from 39% to nearly 90% on Tuesday. The latter is expected to overflow soon.
Die Gouritsrivier kom vir die eerste keer in baie jare af. Foto: Charl Wade, bestuurder Westelike streek, Suid-Kaap Brandbestrydingsdienste (SCFPA).
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'