HESSEQUA NUUS - Daar is verskeie redes waarom jy slange in jou tuin sal kry. Dis veral slangvriendelike tuine wat hulle soos 'n magneet aantrek.
Daar is verskeie redes waarom slange hulself in jou tuin tuismaak. Afgesien van slangvriendelike tuine, sal 'n omgewing of erf wat onbebou is slange aantrek. En as daar stapels stene, bou- en tuinrommel, dakplate en komposhope op 'n erf is, bied dit vir slange 'n veilige wegkruipplek.
Knaagdiere soos rotte en muise, geitjies en akkedisse is deel van slange se voedsel. Slange kom soek hulle en beland só in jou tuin.
Boomlewende slange (boom- en voëlslange) verkies bome en digbegroeide plantegroei. Dit is die skuilplek vir talle klein diertjies soos verkleurmannetjies en vele ander. Hulle klim maklik op en glip by oop vensters in - slange ook.
Vermy dus 'n ophoping van rommel en tuinreste op jou erf.
Visdamme en rotstuine skep 'n geskikte habitat vir paddas en knaagdiere, wat slangkos is. Wees dus versigtig en oplettend wanneer jy in die nabyheid daarvan is.
Die meeste slange gee pad as hulle bedreig voel. Moet hulle dus nie doodmaak nie.
Hou struike en digbegroeide plantegroei weg van die mure af. Rankplante teen mure is waarom slange, rotte, muise, geitjies en spinnekoppe jou huis binnekom.
Fotos: Pexels
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’