Hassani Athuman, 'n Malawiese burger het Vrydag, 31 Oktober in die Stilbaai Landdroshof vir die eerste keer verskyn. Hy is ook aangekla onder die immigrasiewet, aangesien hy nie oor 'n paspoort of wettige permit beskik om in die land te wees nie. Hy het in aanhouding gebly tot Maandag, 3 November en is op R5 000 borg vrygelaat. Die saak is uitgestel na Woensdag, 3 Desember.
Volgens ao Winston Coetzee was hy en konstabels Manoizake Mtzwanana en Marco Botha na Mosselbaai onderweg, juis vir dwelm opleiding vir dié twee lede. Hulle het pas op die N2 afgedraai, rigting Mosselbaai toe 'n swart Audi hulle met 'n hoë spoed verbygesteek het.
Dit het hom dadelik agterdogtig gemaak en hulle het die motor dadelik agternagesit. Bystand is per radio ontbied en digby Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool het hul die voertuig afgetrek. Ao Henry Fielies en sers Hans Busch het bystand verleen en die daggavonds is in die bagasieruim gevind nadat die motor gevisenteer is. Dit was in 'n groot, rooi sak, in afsonderlike pakke met papier verpak en met breë kleefband verseël. Beslag is op die motor en dwelms gelê.
Hoewel die twee konstabels toe nie die opleidingsessie kon bywoon nie omdat hulle moes terugkeer na die polisiestasie, was die ondervinding wat hul eerstehands met dié arrestasie gedoen het volgens hulle van onskatbare waarde.
"Ek is seker die adrenalien het goed gevloei, maar die manne het hul goed van hul taak gekwyt en ek is seker hulle gaan 'n aanwins tot die dwelmvoorkomingspan wees," het Coetzee aan Suid-Kaap FORUM op die toneel vertel.
"Ons sal nie ophou om oorlog te voer teen dwelmhandelaars en -verspreiders nie. Meeste van hulle kom uit ander lande en kom verwoes ons en ons kinders se lewens sonder om 'n oog te knip of enige gewetenswroeging daaroor te hê.
"Ons boodskap aan julle is: Pasop! Een of ander tyd gaan ons julle vastrek," waarsku Coetzee. Maj Chrisna Auret, stasiebevelvoerder, was in haar skik met die polisielede se optrede en die groot slag wat hulle geslaan het en sy steun Coetzee se waarskuwing.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Konstabels Manoizake Mtzwanana en Marco Botha, sers Hans Busch en ao Winston Coetzee sit by die dagga waarop hul beslag gelê het.
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'