"Inbrake in die landelike gebied toon 'n styging en landelike inwoners word gevra om na vore te kom met inligting wat kan lei tot arrestasie," vra majoor Chrisna Auret, stasiebevelvoerder. Inligting sal as vertroulik hanteer word en positiewe inligting wat lei tot 'n arrestasie, sal beloon word.
'n Boot enjin is tydens 'n inbraak gedurende Januarie vanjaar by 'n woning in Vermaaklikheid gesteel. Inligting wat ontvang is van lede van die publiek wat opgevolg is, het daartoe gelei dat drie persone gearresteeer is vir huisbraak en diefstal en die persone het reeds in die hof verskyn.
Verlede maand op 8 Junie het die polisie op inligting reageer wat ontvang was oor 'n verdagte voertuig. Die voertuig is gestop en daar is vasgestel dat 75 liter diesel op die plaas Assegaaibosfontein gesteel is. Twee persone is in die verband gearresteer en het reeds in die hof verskyn.
"Gedurende die nag van 25 en 26 Mei vanjaar is daar weer Telkomdraad op die Vermaaklikheidpad gesteel, maar geen arrestasie is tot dusver gemaak nie," sê Auret. Die ondersoek duur voort. Sy vra die gemeenskap om enige verdagte voertuie te rapporteer.
Inbraaksake was aangemeld in die volgende gebiede:
- Kleinriver - 2 sake;
- Klipdrift/Vlakte - 2 sake;
- Vermaaklikheid - 2 sake;
- Novo - 1 saak;
- Langkloof - 1 saak.
Enige inligting kan deurgegee word na 028 713 8500 of 082 522 2589.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'