WITSAND NUUS - Die polisie is op die spoor van drie verdagtes wat vermoedelik twee bejaardes in die middel van die nag in die dorp vasgebind en beroof het.
Die voorval het omstreeks 01:00 op Vrydag 3 Mei gebeur.
Volgens ao. Alroy Windvogel, mediawoordvoerder van Heidelberg-polisie, het die verdagtes toegang tot die huis verkry deur 'n venster met 'n aluminiumraam te verwyder.
Die bejaarde man (73) en sy vrou (70) het glo teen 21:30 gaan slaap. Toe hulle wakker word van die lig wat aangeskakel word, was daar drie mans in hul slaapkamer. Die mans het die bejaardes beveel om nie 'n geluid te maak nie en gesê hulle sal nie seergemaak word nie, mits hulle maak soos hulle gevra word.
Die egpaar se hande en voete is vasgebind. 'n Kussingsloop is opgeskeur en in hul monde gedruk en hul koppe is met 'n laken toegegooi.
Die mans het 'n groot televisiestel, kontant, twee selfone, juweliersware en die vrou se handsak buitgemaak. Hulle het ook die bejaardes se motorsleutel saamgeneem. Die mans het daarna in 'n wit voertuig op die vlug geslaan. Die bejaardes kon daarin slaag om hulself los te woel en het die polisie omstreeks 03:00 ontbied.
Volgens Windvogel het die polisie in Kaapstad beslag gelê op die voertuig wat vermoedelik in die rooftog gebruik is.
'Ons bring jou die nuutste Witsand, Hessequa nuus'