ALBERTINIA NUUS - Die knap optrede van verskeie rolspelers na inligting ontvang was van 'n gesteelde voertuig, het veroorsaak dat die voertuig herwin en twee verdagtes in hegtenis geneem is.
Die voertuig, 'n rooi Volkswagen Polo is gedurende die nag van 26 Augustus in Harare (Kaapstad) gesteel.
Polisiestasies, provinsiale verkeersbeamptes, Matrix Tracking, plaaswagte en die Mosselbaai gesamentlike operasionele sentrum was gewaarsku om op die uitkyk te wees vir die voertuig.
Waaksame lede van Albertinia-polisie en Agri Farm Watch, Albertinia-lede het die volgende dag, 27 Augustus, die voertuig met twee insittendes opgemerk en agternagesit. Die Polo het op 'n grondpad vanaf die N2 afgedraai, waar dit teen 'n treinbrug gebots het.
Een van die insittendes is in hegtenis geneem, terwyl sy medepligtige te voet gevlug het. Hy is egter op 'n plaas in die omgewing opgemerk en is aangekeer.
Beide verdagtes (26 en 27 jaar oud) is van Khayalitsha in Kaapstad. Hulle het Maandag 29 Augustus in Riversdal-landdroshof vir die besit van 'n gesteelde voertuig verskyn.
Die stasiebevelvoerder, kapt. Susan Botha bedank sersante Rosemary Nomdo en Francois Fielies, asook konst. Bradley Volkwyn vir hulle uitstekende reaksie.
"Ook 'n spesiale dank aan al die rolspelers wat die polisie bygestaan het en wat altyd beskikbaar is om misdaad in ons distrik te bekamp."
Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, lt.gen. Thembisile Patekile het ook groot lof vir al die rolspelers gehad.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'