HESSEQUA NUUS - Vandalisme, plundery en diefstal by speelparke, begraafplase en openbare geriewe het 'n ernstige probleem in die streek geraak en daarom sal die plaaslike munisipaliteit streng teen oortreders optree.
"Hessequa-munisipaliteit en raad sal nie meer vandalisme teen munisipale bates en veral in begraafplase duld nie, sê Johan Jacobs, munisipale bestuurder.
"Volgens hom sal wetstoepassers begraafplase gereeld patrolleer om persone wat doelloos daar ronddwaal, aan te spreek.
Die direkteur van tegniese dienste, Lindile Zincume is opdrag gegee om 'n strategie van voorkoming van vandalisme, plundery en diefstal per wyk te verkry en aan die raad voor te lê vir oorweging en goedkeuring.
Agendapunte sal by polisiëringsforums, asook buurtwagvergaderings geplaas word.
Bewusmakingsvergaderings met gemeenskappe sal gehou word tydens burgemeestersuitreike om inwoners rakende die uitdagings van vandalisme in te lig.
"Die sinlose beskadiging van enige openbare bate, soos verkeerstekens, substasies, ablusiegeriewe, openbare parke, wat begraafplase insluit, is 'n groot kommer, want die herstelwerk plaas 'n onnodige las op die belastingbetaler terwyl die fondse eerder aangewend kon word om verdere fasiliteite aan te bring in plaas van herstelwerke," sê Jacobs.
'n Beroep word op alle lede van die publiek gedoen om vandalisme te rapporteer en wenke wat lei tot skuldigbevinding van die oortreders kan beloon word.
Die identiteit van die inligtingverskaffer sal beskerm word, maar die persoon moet sy naam en kontakbesonderhede verskaf. Sy getuienis mag nodig wees vir die suksesvolle skuldigbevinding van 'n vandaal. Skakel 028 713 8000 of stuur 'n e-pos aan info@hessequa.gov.za
ARTIKEL: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'