HEIDELBERG NUUS - "Baie restaurante is op hul laaste reserwes. Ons moet nou 'n uitweg kry." Aan die woord is Michael Amos, eienaar van Delish restaurant op Heidelberg.
Koffiewinkels en restaurante mag weer van hierdie week af aansitetes bedien, na almal tot dusver tydens inperking slegs wegneemkos kon verkoop. Die vergunning is onder baie streng reëls oor sosiale afstand en higiëne gemaak.
Die grootste doring in restauranteurs se vlees is egter die voortgesette verbod op alkoholverbruik op die persele.
Amos glo dit gaan baie ondernemings kelder: "Mense gaan nie vir ete uitgaan as hulle nie kan kuier nie. Ons het die afgelope weke duisende rande ingeploeg om oop te bly, maar ons gaan dit nie terugkry onder dié omstandighede nie."
Hy was verlede week genoodsaak om ses personeellede af te betaal, sê hy.
Tony Jardim van On the Rocks op Stilbaai eggo die sentimente. Hy reken 'n ete sonder 'n drankie misken die hele doel van 'n restaurant: "Mense is sosiale wesens wat wil drink saam met hul etes. Dié situasie gaan nie werk nie." Hoewel die restaurant oop is, gaan die oorhoofse kostes defnitief nie deur maaltye en 'n koeldrank hier en daar gedek word nie, sê hy.
Die bestuurder van Albertinia-hotel, Lumé Vermeulen sê hulle hoop die situasie sal binnekort verander.
"Dis winter en mense gaan reeds baie selde uit. Albertinia is boonop maar 'n klein dorpie. Die verbod op alkoholverbruik gaan klante definitief nie na 'n restaurant toe lok nie."
Hulle gaan die deure oophou, maar die toekoms is vol onsekerheid: "Ons kan net bid die regulasies word gou gewysig."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'