Update
STILBAAI NUUS - Modelle, sangers en dansers van so jonk as vyf jaar tot ouer as 30 het aan die halfeindronde van die South African Championship of Performing Arts (SACOPA) se talentkompetisie deelgeneem.
Die geleentheid het op Saterdag 4 Junie in die plaaslike gemeenskapsaal plaasgevind.
Deelnemers het dit behoorlik uitgespook om plekke los te slaan om in die eerste week van Oktober in Rustenburg aan die SA's deel te neem.
Volgens Elmarie Grobler, organiseerder en een van die drie direkteure van SACOPA is daar twee halfeindrondes. Een vir die Suid-Kaap en een in Kaapstad. "Daar is geen kompetisie tussen deelnemers nie, omdat jy teen jouself deelneem en 'n sekere aantal punte moet verdien om na die nasionale kompetisie in Rustenburg deur te dring."
Grobler is baie opgewonde oor die talent wat hier in die Suid-Kaap wegkruip. "'n Kompetisie soos hierdie gun deelnemers die geleentheid om hulself voor 'n groepie uitgelese beoordelaars te bewys."
Sasha Mari Grobler was een van die vele presteerders.
Vanjaar se beoordelaars is Reynier Shields, 'n voormalige Boss-model, Cristel Nel, 'n voormalige internasionale model wat ook vir Suid-Afrika netbal gespeel het, Anneke Marais, modelskooleienaar en skrywer, asook Nicky Olivier (néé Van der Westhuizen) wat in die verlede al mense soos Anneline Kriel in die buiteland vergesel het.
Volgens Shields is elke persoon uniek en hoewel die industrie standaard baie belangrik is, kyk jy na die individu self. Persoonlikheid is baie belangrik en op die verhoog moet jy jouself verkoop.
"Dit is regtig jammer dat die skole in die omtrek nie die voordele insien wat hierdie kompetisie bied nie. Almal is gekontak, maar min van hulle het leerders daar gehad. 'n Kompetisie van hierdie aard doen wondere vir 'n kind se selfvertroue en hopelik sal heelwat meer kinders volgende jaar deelneem," het Shields gesê.
Elmarie Grobler was die organiseerder en 'n direkteur van SACOPA.
Grobler het die uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, en ook Hessequa-munisipaliteit bedank vir die beskikbaarstelling van die gemeenskapsaal, asook almal wat meegehelp het om van die dag 'n sukses te maak.
Uitstaande presteerders was Sasha Mari Grobler met twee goud en een goud met onderskeiding, Wanya Grobler met een goud en een goud met onderskeiding, Jana Romé van Druten met drie goud, asook Nea-Lize Rautenbach, Alivia-Lin Roux en Dané Westcott met twee goud.
Al die deelnemers van die dag was dan ook goed genoeg om SA's toe te gaan in Oktober.
Die beoordelaars aan die werk. Van links: Cristel Nel, Nicky Olivier, Anneke Marais en Reynier Shields. Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'