Gallery Update
STILBAAI NUUS - Die eerste van 'n beplande 10 drafbyeenkomste het Saterdag 24 Februarie by Kasselshoop net buite die dorp plaasgevind.
39 Stappers en drawwers tussen die ouderdomme van ses en 70 het die 6 km-roete op die plaas aangepak.
Die wenner, Henk Wichers het die afstand in 29 min 41 s kafgedraf met sy vrou, Liane wat die eerste vroulike deelnemer by die einde was.
Haar tyd was 32 min 51 s en sy het ook derde algeheel klaargemaak. Hulle was besoekers van die Strand.
Pieter Gildenhuys van Heidelberg was tweede algeheel met Emile Streicher, 'n jarelange vriend van die plaaseienaar, Kassie Kasselman was derde in die mansafdeling.
Dié landloopgeleentheid het sommer ou vriendskapsbande weer gesmee en Streicher en Kasselman het ná die tyd heerlik in die geskiedkundige ou gebou gekuier.
Stilbaai se Evona Heyns was tweede in die damesafdeling en is gevolg deur Melissa Smit van Riversdal.
Die jongste deelnemers was Katrien van Wyk en Margot Steyn, wat albei ses jaar oud is terwyl Japie de Jager en Rudie Gunther as 69-jariges ook klaargemaak het.
'n Bietjie reën die vorige aand op die Droëvlakte het daartoe bygedra dat die sanderige gedeeltes nie só sag was nie, met die reën wat net lank genoeg weggebly het tot ná die ren.
Liane Wichers van die Strand was die vinnigste vrou en het die derde vinnigste tyd aangeteken.
Hoewel die sand nogal vir 'n paar deelnemers 'n uitdaging was, het die roete ook harde gedeeltes op die plaas ingesluit en die deelnemers kon hulle verlustig aan die fynbos op die plaas waar melk- en skaapboerdery, asook rietsny toegepas word.
Die organiseerders beplan dat elke roete ongeveer 5 km lank sal wees en van mekaar sal verskil, terwyl 'n 10 km- en moontlik ook 'n 15 km-roete later beplan word.
Die doel van die Farm Run is om aan buitelewe-entoesiaste die geleentheid te bied om op 'n gereelde basis 'n veilige roete op die plaas aan te pak en saam met die hele familie te geniet en na die tyd rustig saam te kuier.
Die volgende Kasselshoop Farm Run/Walk vind op 31 Maart plaas. Inligting is beskikbaar op www.mystilbaai.co.za.
En só pak die drawwers en stappers die 6 km-roete op die plaas aan.
Lees 'n vorige artikel: Plaasdraf lok heelwat besoekers
ARTIKEL & FOTO'S: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'