ALBERTINIA NUUS - Peet van Zyl, een van Mann Gildenhuys se beste vriende, het 'n dag voor sy dood, die Saterdagmiddag, nog saam met hom koffie gedrink. Mann is die Sondagmiddag oorlede.
Hier is van Peet se soetste herinneringe:
"Mann laat my dink aan klomp dinge wat ons saam beleef het en om als neer te pen, sal dae vat.
Van die herinneringe wat die langste teruggaan en wat ook die meeste herhaal is, was sekerlik ons kuiertjies oor 'n braai en 'n paar bottels wyn. Dit het begin toe hy nog oorkant die straat gebly het, maar nadat hy getrek het, het hy sommige aande kom kuier en kom oorslaap.
Dan het ons die vuur aangesteek, die wyn oopgemaak en die wêreld en ons posisionering daarin uit alle moontlike invalshoeke in detail bespreek.
Daar het ons baie raakpunte met mekaar ontdek, maar ek dink dit waaroor ons verskil het en hoe ons die verskille benader het, is van groter belang.
Maak nie saak hoe ons verskil het nie, al twee het gemaklik genoeg gevoel om hulle saak te argumenteer sonder kwade gevoelens en sy argumente het my tot baie nuwe denkrigtings gelei en hopelik het my argumente hom ook soms anders laat dink oor dinge.
Sy gunsteling gesegde wanneer dit stil word tussen onderwerpe, was: "Kyk hoe lyk ons nou!"
Mann het 'n goeie hart gehad en was altyd bereid om mense om hom te help. Die mense naby hom, was baie belangrik vir hom en hy was altyd besig om planne te beraam om daardie mense by te staan. Die lewe loop snaakse paaie met ons en ons kan nie altyd doen wat ons graag sou wou nie, maar Mann se hart was altyd op die regte plek
Ek sal hom altyd onthou as 'n hardwerkende, besige mens. Hy kon nooit stilsit nie. Vakansie hou was 'n vreemde konsep. Ek glo die rus wat hom altyd ontwyk het, is nou daar vir hom.
So, ons het Saterdagmiddag nog 'n laaste paar ure gehad om 'n laaste keer saam koffie te drink en te gesels. Dit was kosbare tyd.
Ek gaan hom mis."
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'