Gallery
STILBAAI NUUS - 'Onvergeetlik!', 'aangrypend!' en 'manjifiek!' is maar 'n paar van die opmerkings wat na afloop van die langverwagte Passiespel gehoor kon word wat op dié dorp aangebied is.
Deelnemers en die gehoor was dit eens dat niemand onaangeraak daar uitgestap het nie.
Die gemeenskapsaal was vir drie aande na mekaar stampvol gepak met waarderende toeskouers wat van so ver as Oudtshoorn en Mosselbaai gery het om die skouspel by te woon. Die deelnemers is elke aand met 'n staande applous beloon.
Onder regisseur Pauline Hollis se bekwame leiding is 'n produksie op die planke gebring wat by heelwat groter toneelgeselskappe sal kan kers vashou. Benjamin Duminy het veral met sy deurleefde vertolking van Jesus beïndruk. Met 'n agtergrond van mediese studies het hy maande lank navorsing gedoen oor die beste uitbeelding van 'n uitgeputte en sterwende karakter. Hy het van kindsbeen af 'n passie vir drama en musiek en het dit met sy wetenskaplike kennis gekombineer om die wye spektrum van emosies en ervarings in die Paasverhaal oortuigend vas te vang.
George van den Berg, wat as Herodes sy buiging gemaak het, beskryf sy deelname aan die Passiespel as 'n ervaring wat hom met 'n traan in die oog gelaat het. "Nederige en kwesbare mense het deur die werking van die Heilige Gees die lyding en opstanding van Jesus uitgebeeld en dit het geestelike waarde tot elke deelnemer en toehoorder toegevoeg."
Vir Matthys Streicher, wat gesien kon word as Pilatus, het die deelnemers se toewyding en geloof in die sukses van die projek uitgestaan. Toe beplanning meer as 'n jaar gelede begin het, was daar nie eens genoeg akteurs vir al die rolle nie. Die bestuur het aanhou glo en werk en die eindresultaat was 'n uiteenlopende groep mense wat liggaam en gees ingegooi het om 'n reuse sukses van 'n besondere gemeenskapsprojek te maak. Spelers en musikante het 'n geestelike familie geword.
Die voorsitter van die reëlingskomitee, Pieter Lategan, het die Passiespel van die begin af sien groei. Hy vertel van 'n nederige begin wat ontwilkkel het in 'n geloofservaring wat baie groter is as net 'n groepie mense wat sing en toneel speel. Die provinsiale regering het ook betrokke geraak deur die saal te huur en borge het gehelp om kostes te delg. Op Hessequa-munisipaliteit se ondersteuning kon deurentyd gereken word en hulle het ook 'n noodkragopwekker gereed gehou.
Die spelers is meesterlik deur die NG-kerkkoor ondersteun, onder leiding van die musiekdirekteur, Elize Pienaar, saam met uitstekende soliste en musikante om die storie ook in klank te vertel. Klavierspel is deur Elize Pienaar en Anine Fourie behartig, terwyl Arina Oosthuizen op klarinet gehoor kon word. Sy het ook dwarsfluit gespeel. Pauline Hollis (jnr) was agter die klawerbord en Christo Pienaar het trompet gespeel. Die sangsoliste was Corniël Calitz, Deona Aucamp, Janette Kasselman, Steve Mentz, Danie Joubert, Matthys Streicher en George van den Berg.
Enigiemand wat belangstel in foto's van die produksie, kan by Pakketmoles navraag doen oor die bundel wat beskikbaar is.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'