Update
HEIDELBERG NUUS - Ellen Pakkies gebruik die hartseer in haar eie lewensverhaal om mense te motiveer.
Nagenoeg 250 gelowiges van Heidelberg Faithful Ministries onder leiding van apostel Adriana Pepper het Sondag 2 Februarie 'n uitreikingsdiens in die Duivenhoks-gemeenskapsaal bygewoon.
Pakkies het bekendheid verwerf toe sy haar seun Abe in 2007 vermoor het as gevolg van sy dwelm-misbruik. Die hof het haar onskuldig bevind op voorwaarde dat sy opheffingswerk in haar gemeenskap doen.
Pakkies het benadruk dat sy berou het oor haar dade, maar sy glo die Here het haar vergewe. Sy het die aanwesiges gemaan om hul kinders so jonk as moontlik te dissiplineer om eendag die regte vrugte te pluk. "Buig die boompie terwyl dit jonk is, moenie later in jul hande huil nie." Sy het vroue aangemoedig om selfgeldend en konsekwent in hul optrede teenoor hul kinders te wees.
"Moenie gesteelde goed koop nie, dit skep 'n mark vir dwelmverslaafdes om hul gewoontes te voed," het Pakkies gesê. Sy het veral die vroue daarop gewys dat hulle die hoeksteen van hul families, gemeente en gemeenskappe is. Sy het die jong vroue gemaan om nie op 'n vroeë ouderdom te trou om van hul ouers weg te kom nie. Sy het ook 'n waarskuwing gerig om mekaar nie af te kraak en te beskinder nie. Pepper het op haar beurt vir Pakkies geloof vir haar bydrae tot die opbou van gemeenskappe en haar bedank vir haar bereidheid om hulle te inspireer.
Middel, van links: Apostel Adriana Pepper en Ellen Pakkies langs haar, saam met gemeentelede. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Die toehoorders luister aandagtig na die toespraak. Foto: Clive Pretorius, korrespondent
Vorige artikel: Ellen Pakkies motiveer gemeenskappe
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'