Update
BUFFELJAGSRIVIER NUUS - 'n 33-jarige man is Vrydag 10 Januarie in hegtenis geneem in verband met die dood van sy dogtertjie.
Syabonga Mbasha het Maandag 13 Januarie op aanklag van moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer in die Swellendam-landdroshof verskyn.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder het die voorval omstreeks 15:30 op die plaas Bloemhof naby Buffeljagsrivier plaasgevind.
Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte met sy 24-jarige saamblyvrou en ma van sy 16 maande oue kind, Alime Mbasha oor werk op 'n plaas in die Witsand-omgewing stry gekry het.
"Die verdagte het die kind gegryp en buitentoe gestorm, waar hy haar noodlottig verwond het. Sy het op die toneel weens steek- en snywonde aan haar nek en bors beswyk. Haar ma is lig beseer," het Pojie gesê.
Swellendam-polisie het Mbasha in hegtenis geneem. Die saak is tot 28 Januarie uitgestel, wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Hy bly in aanhouding.
Volgens Pojie het lt.gen. Yolisa Matakata, die Wes-Kaap se nuwe polisiehoof, haar skok en afgryse oor die grusame voorval wat die lewe van 'n onskuldige kind geëis het, uitgespreek. Sy het gesê die verdagte moet aanspreeklik gehou word vir die dood van 'n kind wat haarself nie kon verdedig nie. Geregtigheid moet seëvier sodat hy agter tralies sal bly.
Lees 'n vorige artikel: Man vas na baba se dood
'Ons bring jou die nuutste Buffeljagsrivier, Hessequa nuus'