SLANGRIVIER NUUS - Ouma Siena, oftewel Ant Ties, het Sondag 1 September 104 jaar oud geword.
Burgemeester Grant Riddles en wyksraadslid Gerald Boezak het die spesiale dag saam met haar, haar familielede, bure en vriende gevier.
Haar kleindogter Magdalena van der Westhuizen, 'n bekende vrywilliger in die gemeenskap, verjaar op dieselfde dag. Die plaaslike Kersfeeskoor, Loving Shepherds, het almal toegesing.
Ouma Siena woon in 'n sinkhuis saam met haar dogter Fransiena Pieters (64) en haar gesin. Volgens Pieters en Van der Westhuizen is sy 'n bietjie doof, maar geniet nog goeie gesondheid. "Ek kan nie onthou wanneer sy laas by 'n kliniek of hospitaal vir 'n ondersoek was nie," vertel Pieters. Sy gebruik ook nie medikasie nie.
Haar man, Piet is 19 jaar gelede oorlede. Die egpaar het drie dogters en 'n seun gehad, maar hy het haar ontval. Sy het 12 kleinkinders, 21 agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind.
Riddles, wat 'n sertifikaat van waardering namens die Raad aan haar oorhandig het, het haar nog vele gesonde jare toegewens. "Ek weet nie van iemand in Hessequa wat ouer is nie," het hy gesê. Hy en Boezak het die jong koorlede gemaan om hul ouers te respekteer. "Eer jou vader en moeder en jou lewe sal verleng word."
Hy het onderneem om die gesin se lewensomstandighede op plaaslike en provinsiale vlak op te neem.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'