Gallery Update
SLANGRIVIER NUUS - Nagenoeg 80 senior burgers is Sondag deur Grant Riddles, uitvoerende burgemeester, en Andrew Stroebel, speaker, met 'n 'High Tea' in die gemeenskapsaal bederf.
Jennifer Hartnick, proporsionele raadslid, het ook die verrigtinge bygewoon.
Riddles het sy dank uitgespreek dat die senior burgers hul middagslapie opgeoffer het om die funksie by te woon.
Hy het gesê hy reik gereeld na verskeie sektore oor die hele streek uit, maar die sektor le hom besonder na aan die hart.
Hy het benadruk dat hy sedert die aanvang van sy termyn met die rolstoelprojek 'n prioriteit gemaak het ten einde 'n verskil in hul lewens te maak.
"Tot op hede het ons 17 rolstoele aan behoeftige bejaardes geskenk, waarvan vier in Slangrivier woon."
Volgens Riddles wil die Raad graag verandering in die gemeenskap teweegbring. Hy het hulle aangemoedig om hul testamente in orde te kry om rompslomp na hul afsterwe te voorkom.
Stroebel het hulle verseker dat al die raadslede passievol is om hulle te dien en die deernisbeleid kortliks verduidelik. "Julle moenie huiwer om raadslede te kontak indien dit nodig is nie."
Lees 'n vorige artikel hier: Eerste burger hou hoë tee
Die senior burgers het heerlik gesmul aan die lekker eetgoed.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'