TUINROETE NUUS - Oud-Kwagga, Elisa Barnardo, is onlangs in Amerika as die beste kinderoppasser (au pair) van 2020 aangewys. Hier word sy tans as kinderoppasser (au pair) die geleentheid gebied om nie net te reis nie, maar ook te kan studeer.
Sy wil graag as 'n kostuumontwerper in films werk, dit was nog altyd haar droom van skooldae af.
Sy was een van die beste ontwerpstudente in die skool en was genooi om een van die beroemde David Thale-werkswinkels op 2 Maart 2018 in Plettenbergbaai by te woon.
Elisa se besluit om as au pair in Amerika te werk, was met die fokus om daar haar droom te bewaarheid. Elsa Barnardo, Elisa se ma, vertel haar avontuur het in Oktober 2019 begin toe sy in Amerika aangekom het om te begin werk.
Die familie vir wie sy werk, het verlede jaar haar kontrak met nog ’n jaar verleng.
"Ons was baie onseker of sy Europa of Amerika toe moet gaan," vertel Elsa.
Elisa vertel om 'n kinderoppasser te wees is nie speletjies nie. "Dit vat baie toewyding, harde werk en natuurlik om om te sien na die kinders en te alle tye deel van die familie te wees."
Elsa spog, Elisa is 'n absolute meester as dit kom by kostuums ontwerp, en met Halloween-vieringe in Amerika, leef sy haar uit deur kostuums vir die kinders te maak. Sy is deur haar gesin ingeskryf vir die kompetisie, hulle het ook 'n video ingeskryf met 'n samestelling van al die goedjies wat Elisa met die kinders gedoen het.
"Natuurlik met Elisa se verbeelding en kreatiwiteit is die kinders se dae belaai met so baie aktiwiteite en genot, en die liefde wat hulle vir haar het is so duidelik, dat wanneer sy nie werk nie soek hulle haar steeds."
Ma Elsa kon nie uitgepraat raak oor Elisa se slag met kinders nie, wat reeds begin het in die Suid-Kaap Kinderkoor waar sy 'n lid was vir 10 jaar en ook hul hoofmeisie was.
As deel van Paula Thiart Carlas AuPairs, kan Elisa nou uit eie ondervinding, advies gee. Haar beste raad is dat jy tog 'n slag met kinders moet hê, en dit nie net vir die geld moet doen nie.
"Jy sal jouself binne vier maande terug op 'n vliegtuig op pad huis toe bevind, wat jy nog self moet betaal ook." Sy sê jou fokus moet die kinders en die familie wees, maar wat so 'n geleentheid wonderlik maak, is dat jy gedurende tyd af die land kan verken deur rond te reis en selfs te studeer.
Lees meer op susterskoerant, George Herald
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'