Update
RIVERSDAL NUUS - Emily-Ann Rautenbach het verlede jaar Oktober wonderbaarlik met haar lewe daarvan afgekom toe sy in 'n ernstige motorongeluk betrokke was.
Sy is 'n oudleerder van Hoërskool Langenhoven en het op Maandag 13 Mei haar storie van hoop tydens 'n saalbyeenkoms by dié skool gedeel.
Volgens Rautenbach het die Here 'n wonderwerk gedoen. "Ek was vir 'n uur en 'n half onderstebo in die wrak vasgekeer. Die linkerkant van my kopvel het losgeskeur en albei my arms was gebreek en my regterarm vergruis," het sy vertel.
Dinge het nie goed gelyk nie en sy vertel dat een van die nooddienswerkers gesê het: "Hierdie vrou gaan vandag doodgaan, kyk hoe blou word sy."
Rautenbach het uit die bakkie geantwoord: "Ek gaan nie vandag doodgaan nie." Wanneer sy na die foto's van die wrak kyk, wonder sy hoe sy dit oorleef het. Dit blyk byna onmoontlik te wees.
Beelde van haar man en haar dogtertjie het haar gehelp om nie moed te verloor nie, en haar 'n veggees gegee. In die ambulans het sy gehoor hoe haar man gesê het dat gebed al ding was wat hulle sal kan help. Sy was bewusteloos, maar kon haar man nog hoor praat. Sy is na Mediclinic Worcester geneem waar sy gestabiliseer en behandel is. As gevolg van die kopbesering het sy geweldig baie bloed verloor. Ten spyte van alles het sy geen pyn gehad nie.
Dokters het vermoed dat daar 'n 90% kans op breinskade sou wees. Hul aanvanklike voorspelling was dat sy 10 dae in intensiewe sorg sou wees. Hierna sou sy, volgens die dokters, minstens nóg drie weke in die hospitaal moes deurbring voor rehabilitasie kon begin. Groot was almal se verbasing toe sy na nét drie dae in intensiewe sorg na 'n gewone saal verskuif is en na 10 dae ontslaan kon word. Rautenbach is direk huis toe en geen rehabilitasie was nodig nie.
"Na die ongeluk het die Here my gelei om 'n bediening te begin waar ek my storie van hoop vertel. Ek wil 'n verskil in mense se lewens maak deur by verskeie skole, kerke, vroueoggende en op radiostasies my storie te deel. Daar is soveel wonderwerke in my storie."
Lees meer oor Rautenbach se bediening en getuienis op haar persoonlike Facebook-profiel en op die blad Yahweh El Roi Ministries.
Die wrak waarin Emily-Ann Rautenbach vir langer as ’n uur en half vasgekeer was.
Lees 'n vorige artikel hier: Sy deel haar storie van hoop
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'