RIVERSDAL NUUS - Franklin Fortuin, adjunk-hoofseun in die jaar 2004 by die Hoër Landbouskool Oakdale, het onlangs sy studies as ortopediese chirurg voltooi.
Sy MMed-graad het hy aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi, terwyl hy sy FC (Ortho)-graad aan die College of Medicine of South Africa voltooi het.
Fortuin se visie vir sy toekoms tydens sy skooljare en as seun van Bonnievale, beskryf hy soos volg:
"Van kindsbeen af wou ek myself as 'n dokter bekwaam. Dit was aanvanklik slegs 'n pypdroom, maar het met latere jare iets geword wat ek hartstogtelik sou nastreef. Dit het in 'n onblusbare vuurtjie binne in my ontaard. Ek wou wegbreek van dit wat ek gevoel het as norm vir my en my toekoms beskou word. Ek wou iets meer doen, iets meer word. Tydens my skooljare op Oakdale het ek ook tot die besef gekom dat die enigste aspek van die lewe waaroor 'n individu 'n mate van beheer het, is die rigting waarin jou toekoms inslaan. Dit verg egter dat jy 'n daadwerklike poging aanwend en daaraan werk. Die bul moet by die horings gepak word en elke geleentheid wat by jou drome inpas, moet met oorgawe aangepak word."
Die hoof en personeel wens hom geluk met hierdie uitsonderlike prestasie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'