Gallery Update
MALGAS NUUS - Dis 'n kwessie van tyd voor die enigste pont in die land wat nog met mannekrag werk, met 'n nuwe gemotoriseerde een vervang gaan word.
Maar dit gaan nie nou dadelik gebeur nie - daarvoor het Jan Publiek gesorg.
'n Petisie wat op Facebook begin is, het daartoe gelei dat die ou pont steeds in plek is. "Hier in die Overberg is die pont so deel van ons erfenis soos biltong, rooiwyn of 'n naweekbraai," sê Nicholas Myburgh, Swellendam se burgemeester wat die petisie begin het. Hy voer ook aan dat die pont 'n belangrike toeriste-trekpleister is en die omgewing se uniekheid beklemtoon.
Volgens hom het die provinsiale en streekowerhede 'onverklaarbaar' besluit dat dit verwyder en met 'n 'lelike, gemotoriseerde pont van plastiek' vervang moet word.
Teen Vrydag 18 Oktober, kort na die departement van vervoer en openbare werke in 'n mediaverklaring sy voornemens bekend gemaak het, het reeds meer as 4 000 mense die petisie aanlyn geteken. Teen Maandag 21 Oktober het bykans 8 000 mense dit onderteken.
Toegegee - die ou pont herinner aan 'n vervloë tyd toe dit al manier was om mense, motors, diere, toerusting en goedere hier naby die suidelikste punt van die kontinent oor die Breërivier te karwei.
Volgens Jandré Bakker, kommunikasiehoof van die departement, is die besluit om die ou pont te vervang nie ligtelik geneem nie. Daar is met verskeie departemente en instansies gekonsulteer. Die Erfenisstigting het gesê die pont val nie onder sy jurisdiksie nie. Omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning het gesê hulle het ook nie 'n probleem daarmee dat die ou pont verwyder word nie - daar is nie eens 'n omgewingsimpakstudie nodig nie.
"Om die ou pont uit die water te haal en die nuwe een in werking te stel het nie goedkeuring nodig nie. Daar is egter 'n proses verbonde aan die verwydering van die ou pont uit die gebied. Dus kan dit, as voorbeeld, uitgesleep en ten toon gestel word, maar indien ons dit uit die Malgas-omgewing wil verwyder moet ons toestemming verkry."
Volgens Bakker is veiligheid van diegene wat die ou pont bedryf en gebruik die belangrikste oorweging - die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsorganisasie het immers in 'n onafhanklike ondersoek bevind dat die ou pont en die staalkabel waarmee dit oor die rivier getrek word, 'n gevaar inhou.
Die ou pont is 13,5 m lank (sonder opritte), 4 m breed (sonder relings, gidspale en katrolle) en het 'n kapasiteit van 10 ton. Die nuwe pont is 17,075 m lank, 6 m breed en kan 20 ton dra. Dit maak die nuwe geskik vir die vervoer van groot plaasimplemente, toeristebusse, passasiersvoertuie en ligte afleweringsvoertuie.
"Dit sal tot voordeel van toerisme strek omdat die veilige nuwe pont aan internasionale standaarde voldoen en kosteloos tot gebruikers se beskikking gestel sal word."
Volgens hom is daar nog nie besluit wat met die ou pont gedoen gaan word nie. "Die belangrikste nou is om 'n veilige pont daar te stel. Die nuwe pont is ook nog nie 100% klaar nie, maar so te sê gereed vir ingebruikneming."
Die vervanging gaan nou seker eerder later as vroeër plaasvind. Solank die ou pont net nie intussen 'n nuwe blyplek op die bodem van die Breërivier vind nie.
Die nuwe pont is gemotoriseer en het nie 'n kabel nodig nie.
Joos van Noordwyk met Pieter Ernest en Elizma aan die hand. Die foto is sowat vyf jaar gelede geneem, sê Betsie van Noordwyk, wat ook die petisie onderteken het.
Lees 'n vorige artikel hier: Ou pont bly, vir nou...
'Ons bring jou die nuutste Malgas, Hessequa nuus'