Willem en sy mede-spanlede het Dinsdagaand, 14 Mei deurgedring na die finale rondte in die kompetisie wat plaasgevind het in Malmo, Swede. Denemarke het egter Saterdagaand met die louere weggestap met 'n meerderheid van 281 punte vir hul lied, 'Only teardrops' deur Emmelie de Forest. Azerbaidjan was in tweede plek met 234 stemme en Oekraïne in die derde plek met 214 punte. Belarus wat onder die top 10 in die finaal was, het ongelukkig in die 16de plek geëindig met 48 punte.
Groot eer vir Suid-Afrika
Willem is die eerste Suid-Afrikaner wat aan die kompetisie deelneem. Eurovision is die grootste en oudste sangkompetisie in die wêreld wat in 1956 begin het. Hierdie jaar het 39 lande in Europa deelgeneem en meer as 100 miljoen aanhangers in 44 lande het dit via uitsending op televisie gevolg. Sangers soos Celine Dion en die supergroep, Abba se loopbane het by Eurovision begin nadat hulle dit gewen het. In 'n aanlyn onderhoud met Suid-Kaap FORUM noem Willem dat dit vir hom 'n ongelooflike geleentheid en ook baie lekker is om Suid-Afrika so trots te kan maak op so 'n groot internasionale platvorm.
Belarus
Willem vertel dat die Belarus span bestaan het uit ses mense; die hoofsanger Alyona Lanskaya van Belarus, die drie back-up singers waarvan hy een was, asook twee meisies afkomstig vanaf Serbië. Lanskaya is 'n bekende kunstenaar en televisiester in Belarus en is dit die derde jaar wat sy deelneem.
Op die vraag hoe hy ingeskakel het by die Belarus span, vertel hy dat iemand in België wat vir Eurovision werk hom raakgesien en voorgestel het aan die Switserse skrywer wat die Belarus span se temalied 'Solayoh' geskryf het. "Die organiseerders van die span het van my stem en beeld gehou en voorgestel dat ek by hul groep aansluit."
Hy moes byna die groot geleentheid van die hand wys, aangesien hy besig was om aan 'Donkerland', 'n nuwe televisiereeks geskryf deur Deon Opperman vir KykNet te werk. Hy moes egter 'n toer saam met Monique en Dewald Wasserfal skuif om aan te sluit by Eurovision.
Die Belarus groep tydens hul optrede by Eurovision. Willem is tweede van regs in 'n blou hemp.