Die kamera is aangebring by die Fynbossentrum-kruising in die dorp se sakekern. Suid-Kaap FORUM was in gesprek met mnr. Archie van Dyke, sakekamerlid gemoeid met die projek. Volgens hom is hierdie kamera, asook die kamera by die brug opgerig as deel van die pro-aktiewe beveiliging van Stilbaai en sy omgewing. "Beide kameras se data word konstant deur 'n rekenaar van puik kwaliteit geprosseseer en opgeneem en word daarna direk na die polisiestasie gestuur, waar dit gemoniteer word deur bekwame polisiebeamptes."
Die sakekamer is opgewonde oor die projek en is van mening dat dit nie net bydra tot die veiligheid in die dorp nie, dit wys ook dat die onderskeie organisasies, besighede en inwoners kan saamwerk vir die beskerming van die dorp. Van Dyke noem verder dat daar beoog word om nog kameras op strategiese punte in die omgewing op te rig, maar aangesien Fase 1, wat bestaan uit die oprigting van die draadlose netwerk, rekenaars, opnemers en monitors voltooi is, sal elk van die volgende kamerapunte slegs ongeveer R10 000 per punt beloop. "'n Minimale bedrag om te betaal vir die beskerming van ons dorpie by die see."
Die munisipaliteit en die span van 'n plaaslike internet maatskappy is besig om die nuwe CCTV- kamera aan te bring. 'Boewe pasop, een kiekie staan tussen jou en 'n veilige Stilbaai.' Foto: Archie van Dyke.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai | Tuinroete nuus'