Die klub se jaarlikse doelwit is om fondse in te samel vir Huis Stilbaai en die Jagersbosch Gemeenskapsorgsentrum. Vanjaar se funksie het 'n groot hupstoot gekry met die uitloot van 'n 9½ kilogram vrugtekoek. Estelle Vorster het die koek gebak en versier.
Daar is deftige tafels gedek deur gasvrouens wat net die beste voorgesit het vir ongeveer 200 gaste. Stilbaai se mannekoor en Annatjie Joubert het pragtig gesing, begelei deur onderskeidelik Elize Pienaar en Alta Bester.
Die koorleier is Naomi van Schalkwyk. Tussendeur is agtergrondmusiek verskaf deur Alwyn Vorster met sy trekklavier en twee kitaarspelers, Hennie van Rooyen en Gert Kruger. David Davidson was die hoofspreker vir die oggend.
Hy het aan die hand van foto's op 'n skerm insae gegee van Suid-Afrika se jaarlikse uitstallings by die Chelsea Blommeskou in Engeland. Die gehoor het sy vertellings van die gebeure agter die skerms veral interessant gevind.
Danksy die besonderse ondersteuning van die besigheidssektor van Stilbaai en die uitvoerende burgemeester van Hessequa, rdl Emor Nel was die funksie 'n groot sukses.
Klik hier vir 'n fotogalery.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Die bestuur van Busy Lizzie Huis- en Tuinbouklub op Stilbaai is van links: Christa Kunz, Maryna Hugget, Manie Smit, Helena le Roux, Jeanie Scholtz, Frena Greyling (voorsitter), Estelle Vorster, Annette Pienaar, Leone de Koning en Lochnette du Toit, (Engela le Roux afwesig). Foto's: DeJavu Fotografie, Stilbaai.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'