Goeie nuus vir die Hessequa-streek en in besonder Albertinianers, is dat die voertuie wat hieraan deelneem, op 3 Oktober by 'n vulstasie op die N2 by die dorp se hoofingang te siene sal wees. Die Solar Challenge vind vanaf 27 September tot 4 Oktober plaas.
Die wegspring is in Pretoria en die eindpunt is Kaapstad. Dit word beskou as een van die top internasionale gebeurtenisse van sy soort en is 'n opwindende agtdag landwyd uithouvermoë uitdaging, wat die gesofistikeerdheid en prestasie van son-krag-aangedrewe voertuie toon.
Die geleentheid word elke twee jaar onder die vaandel van Motorsport Suid-Afrika en die Federation Internationale de l'Automobile (FIA) gehou en is 'n gesamentlike inisiatief tussen die universiteitstudente, dosente, skoliere, private individue en verskeie sektore en regeringsvennote.
Volgens Richard Hughes, borgskapbe-stuurder, is dit 'n opwindende vertoning van die krag en buigsaamheid van hernubare energie in aksie.
"Ons is baie trots om vennote te wees in 'n inisiatief wat nie net die gebruik van alternatiewe energiebronne bevorder nie, maar ook jongmense aanmoedig wat betrokke is in in-genieurswese, wetenskap, besigheidspraktyke en spanwerk ."
Spanne kom saam ná maande se harde werk van innoverende ontwerpe en die bou van hul eie ingenieurswese stelsels om die groot uitdaging, naamlik 'n sonkrag-aangedrewe voertuig oor 'n paar van die mees uitmergelende terreine in Suid-Afrika aan te dryf.
Die wenners sal bepaal word deur middel van verskeie kategorieë wat insluit gemiddelde tyd en afstand, gemiddelde energieverbruik en gemiddelde batterygebruik. Die Sasol Solar Challenge het ten doel om die verbeelding van alle Suid-Afrikaners te vang.
In 'n kort onderhoud met rdl Emor Nel, uitvoerende burgemeester: Hessequa en rdl Charles Prins was hul albei baie opgewonde oor die groot eer wat Albertinia te beurt val omdat een van die pitstoppe hier plaasvind.
Hulle moedig ook die skole van die omgewing aan om veral die leerders wat Wetenskap, Wiskunde en Tegnologie neem hierheen te bring om die motors te besigtig.
Vir meer inligting kan Boy Janse van Rensburg gekontak word by 028 735 1123 of volg die Sasol Solar Challenge by www.solarchallenge.org.za.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.

Die Universiteit van Johannesburg se span gaan in die Ilanga II deelneem aan die Sasol Solar Challenge.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'