Baie mense sal Samantha aan haar nooiensvan, Pienaar, herken, maar dié talentvolle en pragtige dame het verlede jaar in September met Elroy Taute in die huwelik getree en verkies sy haar getroude van. Sy het Woensdag vir 'n blitsbesoek na Johannesburg gegaan vir 'n opname van 'n episode in die welbekende sepie 7de Laan, nadat sy dit tydens die Suid-Oosterfees by Artscape in Kaapstad in Januarie gewen het. Dié episode sal op 14 Mei vanjaar gebeeldsend word en vertolk sy die rol van Bettie, wat een van die akteurs in die sepie se troue en onthaal beplan en reël.
"Van die intrapslag het almal op en van die stel my tuis laat voel en dit het dadelik gevoel of ek daar hoort. Die regisseur het my vertel wat hulle van my verwag, ek het die woorde gekry wat ek moes leer, my grimering is gedoen en die regte klere vir my rol is uitgesoek," het 'n baie opgewonde Samantha vertel. Voor hulle met die opname begin het, het sy darem kans gekry om bietjie op die stel rond te loop en volgens haar was dit geweldig interessant om te sien hoe hulle dit telkemale verander.
"Vandat ek kan onthou, wou ek 'n professionele aktrise wees en dit is 'n droom wat besig is om verwesenlik te word. Dit hang net van myself af of daardie deur heeltemal vir my oopgemaak gaan word. God het nie brouwerk gedoen toe hy ons gemaak het nie, maar Hy het vir ons 'n vrye wil gegee en dis ons keuse wat ons met die talente maak wat Hy vir ons gegee het," sê sy en voeg by: "Daar is parapliëe en kwadroplieë wat aan die Olimpiese Spele deelneem, daarom mik ek hoog en ek sal nie opgee voor ek my doel bereik het nie."
Volgens Jo-Ann de Waal, drama-koördineerder by Gerrit du Plessis Senior Sekondêre skool, was Samantha soos 'n 'pitbull' op skool en waar sy vasgebyt het, los sy nie. "Sy was 'n regte 'go-getter' en ek het toe al geweet sy sal 'n sukses van haar dramaloopbaan maak," het sy gesê.
"Aan almal wat my tot dusver ondersteun en gehelp het om my droom te verwesenlik, die departement van kuns en kultuur wat die verblyf en vliegtuigkaartjies na en van Johannesburg gedek het, mnr. Moniel Jacobs van die departement wat my daarheen vergesel het, my werkgewers wat my baie tegemoetkom met my skofte om my produksies en optredes te kan doen en ook my kollegas, wat selfs hul afdae met my uitruil om my te kan help, 'n groot dankie uit my hart," sluit sy af.

Samantha in die ateljee se skoonheidsalon waar die akteurs se grimering en hare gedoen word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'