Dit was die woorde van Denis Joseph, nuwe DA-lid van die Provinsiale Parlement (LPP) vir Hessequa tydens Huis Wallace se algemene jaarvergadering Vrydag, 12 September. Hy het die jaarvergadering namens die premier bygewoon en toegespreek. "Gestremdes is deel van ons ope gedrewe samelewing wat ook basiese dienste nodig het, soos toegang tot vervoer en geboue.
"Die Wes-Kaapse regering erken die organisasies vir gestremdes wat onafhanklik kan bestaan sover moontlik en ondersteun persone wie hulp nodig het."
Sowat vyf miljoen mense in Suid-Afrika lewe met een of ander vorm van gestremdheid, volgens sensus 2011 statistiek.
Professor Wallace Anderson het ook die vergadering bygewoon en vertel hoe hy gehelp het om iemand se droom te verwesenlik, ten spyte van moeilike omstandighede.
Drie gestremde persone, Johan Cronjé van Albertinia wat in 1966 tydens 'n rugbywedstryd sodanig beseer is dat hy verlam is, asook Erna Kriel van Montagu en Johan Nortier van Groblershoop wat beide verlam gelaat is na afsonderlike motorongelukke in die jare sewentigs se paaie het met mekaar gekruis en 'n hegte vriendskap het ontstaan.
In 1986 het hulle besluit om 'n huis vir gestremdes te begin en so het Anderson op hul pad gekom, deur wie se toedoen die projek as 'n privaat welsynsorganisasie en 'n tak van die Vereniging vir Liggaamlik Gestremdes (Wes-Kaap) op 19 Augustus 1988 geregistreer is.
Na vele probleme, spesifikasies deur die staat wat gevolg moes word en geen finansiële hulp van die staat nie, het die bouwerk op 27 Augustus 1992 slegs met behulp van vele fondsinsamelingsprojekte begin.
Die amptelike opening het op 15 Mei 1993 plaasgevind en daar was besluit om die huis na Anderson te vernoem.
Rdl Emor Nel, uitvoerende burgemeester: Hessequa het gesê dat Huis Wallace Anderson 'n bewys is dat gestremdes onafhanklik kan lewe. "Blindes is 'n voorbeeld van lig vir baie mense wat kan sien," het sy gesê en verwys na 'n blinde vrou op Albertinia wat nie toelaat dat haar gebrek aan sig haar lewenskwaliteit verminder nie.
Die voorsitter van die bestuurskommittee, Sandra van Jaarsveld, het gesê toegewyde leierskap van die bestuur en personeel, vrywilligers en donateurs is die ruggraat van die huis wat vanjaar sy 21ste bestaansjaar vier en 'n baie unieke projek is omdat dit selfonderhoudend is.
Dit bied 24 uur per dag akkommodasie en voltydse versorging aan sewe volwasse persone met ernstige gestremdhede.
Dit sluit fisiese versorging, drie maaltye per dag, skoonmaakdienste en instandhouding in.
Twee projekte, Wallace Anderson Computer Designs en Wallace Anderson Plastics, bied aan inwoners geleentheid om hul talente te ontwikkel en te werk. Al die winste van die sake-eenhede word gebruik om die doelstellings en doelwitte van die organisasie te bevorder.
Donasies en borgskappe word steeds verwelkom en belangstellendes kan meer inligting of bankbesonderhede verkry by 028 713 3608.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.
Van links is Thinus Duvenhage (inwoner en seremoniemeester), rdl Emor Nel, Denis Joseph, Sandra van Jaarsveld, Dalene en prof Wallace Anderson.
ARTIKEL EN FOTO: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'