Soos Benita du Plessis afgesluit het met haar bedankingstoespraak, "Ek dink die liewe Vader glimlag, omdat dié talent wat Hy uitgedeel het nie onder 'n maatemmer gebêre is nie" - met verwysing na die vyfster-vertoning wat gaste deur die loop van die genotvolle oggend beleef het.
Die gaste is met 'n vol program trakteer met 'n uitbeelding van lente, kleur, see, groente, wind, ouderdom, rose, die Skepper en Afrika... alles deur sang, voordrag, musiek en die pragtige skeppings van die blomkunstenaars, Amalia Louw en Diederik Geldenhuys.
Gaskunstenaars het ingesluit Annatjie Joubert (sang), Pauline Hollis (dwarsfluit), Elize Pienaar (sang), Marlene Potgieter (voordrag), Laerskool Volschenk (sanggroep), Denise Kloppers (Afrika-trom), Maggie Filmalter (begeleiding) en die Marimba groep van die Curro skool in Mosselbaai onder leiding van Zelia le Roux.
Die stormweer buite met harde reënbuie wat kort-kort uitgebreek het, het niemand se oggend bederf nie en gaste was dit eens dat Riversdal meer sulke funksies nodig het, sodat die versteekte talente kan uitkom. Heerlike tee en verversings is na afloop van die oggend se program, die uitdeel van geskenkpakkies en gelukkige trekkings, genuttig wat voorberei was deur Monyeen en haar helpers.
Du Plessis het genoem dat daar geen hoofspelers in die program is nie, maar het melding gemaak van almal se betrokkenheid om die oggend 'n reusesukses te maak. Joubert, Louw en Geldenhuys was die persone verantwoordelik om die besonderse oggend te reël en hul verdien 'n applous, want die uitbeelding van die potpourri van kleur en klank het almal met 'n oop gemoed gelaat en huiswaarts laat keer sonder om te kla oor die weer.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.
Van links agter staan Pauline Hollis, Elize Pienaar, Denise Kloppers, Marlene Potgieter, Maggie Filmalter, Moonyeen Stander, Annatjie Joubert, Benita du Plessis, Renée Stander, Amalia Louw, Diederik Geldenhuys en Wendy van Rensburg. Voor staan die sanggroep van Laerskool Volschenk.
ARTIKEL EN FOTO'S: ELIZE BLOM, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'