Ongeveer 60 ouers het saam met past. Jabé Hoogbaard, beheerliggaamvoorsitter gesorg dat niemand die skoolgronde betree nie. Volgens Hoogbaard soebat hulle nou al sedert die begin van die jaar vir nog twee onderwysers omdat die klasse oorvol is, maar dat dit op dowe ore val.
Hy meld dat hy uit sy pad gegaan het om dié situasie te verhoed, maar "wat doen 'n mens as 'n kringbestuurder jou vertel dat dit nie vir hom saakmaak as die skool se hekke gesluit word nie?" Dié amptenaar is aldus hom mnr. Albie Ellman. Hoogbaard vertel verder dat daar tot 49 leerders in die een graad 7 en twee graad 4 klasse is. "Dit terwyl daar twee leë klaskamers is wat nie gebruik word nie," het hy duidelik ontsteld gesê.
Met Suid-Kaap FORUM se aankoms was die plaaslike stasiebevelvoerder, maj. Jeremy Lewak en sy kollegas reeds op die toneel om voorsorg te tref indien sake handuit sou ruk. Hoogbaard was gedurig telefonies in kontak met die hoofkantoor om hulle sover te kry om gehoor te gee aan die ouers se pleidooi.
Donderdagoggend het die Wes-Kaap Onderwys Departement (WKOD) afvaardiging, gelei deur die Eden en Sentraal-Karoo onderwys distrikdirekteur, Zan Rhoxo, Ellman en twee kringbestuurders, Koos Eksteen en Mias du Plessis en nog 'n amptenaar, Eric Magodla by die skool opgedaag. Die plaaslike LPP, me. Jennifer Hartnick en 'n Hessequa wyksraadslid, Lillian February (ANC) het die verrigtinge bygewoon. Laasgenoemde was daar as deel van die ouer afvaardiging. Tydens die ontmoeting het die beheerliggaam hul verskeie probleme met die oorvol klasse, asook ander aspekte wat kwel onder Rhoxo en haar span se aandag gebring.
Beide Ellman en Rhoxo het die prosedure verduidelik wat hulle met die skool se versoek gevolg het. Rhoxo het dit duidelik gestel dat sy die ouers se dilemma verstaan, maar dat die kinders nie onnodig uit die klaskamer gehou moet word nie. "Ek besef julle wil net die beste vir jul kinders hê, maar so ook ek en my span en die hele departement," het sy hulle verseker. Sy het bygevoeg dat sy alles in haar vermoë sal doen om 'n haalbare oplossing te vind. "Gee ons net die nodige tyd," het sy gevra. Daar is ten slotte besluit dat Rhoxo en haar span op Vrydag, 26 April terug moet wees met hul antwoord op dié netelige kwessie.

Past. Jabé Hoogbaard, beheerliggaamvoorsitter, spreek die ouers toe. Langs hom staan mnre. Peter Adams, prinsipaal en regs Nicholas Pietersen, mede-beheerliggaamlid.

Van die omgekrapte ouers staan buite die skoolhekke terwyl maj. Jeremy Lewak met die prinsipaal, Peter Adams, in gesprek is.
ARTIKEL EN FOTO'S: CLIVE PRETORIUS