Hilda van Tonder het reeds twee gewone kalfies mak grootgemaak en dadelik die geleentheid aangegryp toe die pragtige Nguni kalfies oor haar weg kom. Belwit (twee maande) is op 'n veiling gekoop en het dadelik diep in die gesin se harte gekruip.
Shamek se naam kom uit die Bybel (Psalm 145: 14) 'Die Here ondersteun almal wat val en Hy rig almal op wat neergeboë is'. Hilda vertel dat sy en haar man, Wimpie, letterlik vir twee dae gesukkel het dat Shamek drink omdat die kalfie baie erg gerou het oor haar ma, wat haar om een of ander rede nie wou aanvaar nie.
Dit het baie gebede, tyd, aandag en mooipraat gekos voor sy eindelik uit die bottel gedrink het. Shamek behoort aan Engelize du Preez van Stilbaai en wat dié kalfie so besonders maak, is dat sy blou oë het. Mina (vier maande) se ma is dood kort na haar geboorte. Tans floreer die Nguni kalfies onder al die liefde en aandag en Hilda vertel dat hulle beslis elkeen hul eie persoonlikheid het en is baie temperamenteel, maar die Nguni's is beslis heelwat anders as ander beesrasse.
Nguni's op die vlakte
Heelwat persone wat deur Droëvlakte ry, sal die Nguni kudde (52 diere) sien wei by Favour Stud. Oom Sakkie Liebenberg vertel aan Suid-Kaap FORUM dat sy skoonseun, Ernst du Preez voorgestel het dat hul beeste aankoop, aangesien daar daagliks 'afvalvoer' was wat die resiesperde nie eet nie. Sakkie het besluit om 'n paar Nguni's aan te skaf omdat hul vleis van besondere gehalte is en die velle ook in groot aanvraag is.
"Hulle is nie net kleurvol nie, maar 'n opregte Nguni se hare is syagtig, geen growwe haar of winterwol word in die ras geduld nie en het hulle ook 'n hoë weerstand teen bosluis en bosluis oordraagbare siektes, sowel as inwendige parasiete". Sakkie vertel verder dat hul vinnig dragtige koeie en vier verse aangeskaf het in Februarie 2011 in Van Wyksdorp en spoedig was die plaas ryker aan vyf bulkalwers en een verskalf! "Ons bul, Dagha, se ouers is geregistreer en so ook twee van ons koeie. Omdat ons as 'n stokperdjie ekstensief boer, het ons nog nie die diere laat klas en registreer nie, maar dit kom nog".
Nguni's is nie-selektiewe vreters nie en vreet gras, bosse en bome. Vir die rooipitjie sien hulle egter nie kans nie. Daar is geen aangeplante weiding op die plase nie en die beeste wei in die veld en kry die afvalvoer. "Ons verlies was een koei wat koponderstebo in 'n donga geval het. Dis die groot wit kalf by Hilda se ma. Ons weet van drie pasgebore kalwers wat ons sover verloor het, vermoedelik deur honde of wilde diere. In die digte rooipitjie bosse is dit uiters moeilik om 'n kalfkarkas op te spoor. Ons dip nie teen uitwendige parasiete nie en ons behandel die diere een keer per jaar vir inwendige parasiete. Ons het gedurende die afgelope twee-en-'n-halfjaar nog nie 'n siek bees gehad nie".
Sakkie verduidelik dat die klein grys versie met die blou oë (Shamek) die ma se eerste kalf is wat sy weggegooi het. "Hierdie blou-oog versie is dus 'n albino en moet verkieslik uitgeskot word".
Wat beteken Nguni
Nguni beeste se naam is afgelei van 'n swart stam in Afrika wat bekendstaan as die 'Nguni'. Nguni beeste is afkomstig van beide die 'Bos Taurus' en 'Bos Indicus' beesrasse en het deur die jare ontwikkel in 'n geharde ras. Hulle is bekend daarvoor dat hul baie vrugbaar is en ook nie te vatbaar vir siektes nie. Hul word uitgeken aan hul multi-gekleurde vel wat ook patrone kan bevat, maar hul neuspunt is altyd swart.
Nguni in die geskiedenis
Die Nguni kom ook voor in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Koning Shaka Zulu het die kulturele en ekonomiese waarde van dié ras verstaan en was bekend vir sy Nguni beeste. Hy het sy beeste geteel volgens kleurpatrone vir die onderskeie regimente van sy krygers. Shaka se persoonlike koninklike kudde was spierwit en het bekendgestaan as 'inyonikayiphumuli'.
Nguni beeste word vandag nog gebruik vir 'lobola' vir toekomstige bruide en word die status van 'n persoon uitgeken aan die hoeveelheid Nguni beeste in sy kudde.
_541708694.jpg)
Shamek het eers na drie dae besluit om uit 'n bottel te drink, tot groot vreugde van Wimpie en Hilda.
_563800196.jpg)
Belwit is 'n pragtige wit en bruin Nguni kalfie.