Die doel van die besoek was om hom op 'n toer deur die dorp te neem om 'n paar sake wat reeds geruime tyd sloer onder sy aandag te bring. Buiten Bredell was verteenwoordigers van Omgewingsake, CapeNature, rdl Emor Nel (uitvoerende burgemeester), Johan Jacobs (munisipale bestuurder) en dr rdl Joan Prins (Wyk 3) ook teenwoordig.
Die omdraaipunte aan die ooste- en westekante van die dorp is besoek waar erosie tans op erge graad voorkom. Naas Palmer, voorsitter verduidelik dat JIV hul kommer hieroor uitgespreek het, aangesien die gebiede wat vir jare deur vissermanne en inwoners besoek word kan verdwyn. "Die minister het genoem dat hy 'n ingenieur sal taak vir 'n moontlike oplossing".
Die getypoel ondervind ook erosie, veral tydens rowwe seetoestande. "Die JIV het 'n voorstel gemaak dat 'n keermuur gebou word om dit aan te spreek".
Die hartklop van Jongensfontein, Strandstraat is ook besoek en is die toestand van die pad, randstene en sypaadjie wat nie op standaard is nie, onder Bredell se aandag gebring. Hier is ook 'n voorstel gemaak vir 'n keermuur aangesien die see al nader aan huise in die straat opstoot.
Die swemstrand veroorsaak groot probleme, veral vir swemmers tydens die besige seisoene, aangesien dit vol los klippe is en kom beserings gereeld voor. 'n Aansoek om 'n sandduin, soos vroeër jare gedoen is, terug te stoot in die swemgat is reeds in 2013 ingedien by Hessequa Munisipaliteit en sloer dit volgens JIV geruime tyd om tot 'n punt te kom.
"Die rede is dat omgewingswette heelwat verander het, maar is die versekering gegee dat die versoek binnekort afgehandel behoort te wees".
Die toer is kortliks onderbreek vir 'n besoek aan die Fonteinhuisie, wat as museum vir die dorp dien waar verversings geniet is.
Die JIV het ook 'n eksemplaar van die Jongensfontein boek aan Bredell oorhandig. Die laaste besoek was aan erf 126 wat 'n openbare ruimte is en 87ha beslaan. "Die JIV het 'n amptelike versoek aan die munisipaliteit gerig in 2012 om die erf te hersoneer na 'n natuurreservaat", verduidelik Palmer. Heelwat tyd het sedertdien verloop weens prosesse wat gevolg moes word en het CapeNature veral 'n groot rol hierin gespeel.
"Alle insette is gelewer en is die versekering gegee dat die erf binne die volgende maand bewaringstatus behoort te kry".
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.
Gesellig in die Fonteinhuisie van links: rdl dr Joan Prins, Danie Swanepoel, rdl Emor Nel, en Naas Palmer.
Van agter links: dr Ernst Baard, Jean du Plessis (beide CapeNature), Shagon Carelse (Hessesqua Omgewingsake), André Roux (Omgewingsake, Eden Distriksmunisipaliteit), min Anton Bredell, Johan Jacobs en Danie Swanepoel. Voor : dr rdl Joan Prins. Rhett Hisemann (CapeNature), Naas Palmer en die rdl Emor Nel.
ARTIKEL EN FOTO'S: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Jongensfontein, Hessequa nuus'