Francois, seun van Johanna en wyle Frikkie Janse van Rensburg van die dorp en sy vrou, Mariana het op 16 Januarie sy vyftigste verjaarsdag onder ysige weersomstandighede van -24° en 'n windspoed van 105km/h herdenk.
Die aand van die vyfde dag moes hulle om 22:00 begin klim om die kruin betyds te bereik; 'n tog van 1 300m oor 'n afstand van 4,5m. Weens die gebrek aan suurstof kon hulle slegs ongeveer 500m per uur beweeg. Die laaste 500m is feitlik toe onder sneeu met die mooiste gletsformasies. Die hele ekspedisie duur sewe dae oor 'n afstand van ongeveer 80km.
"Daar was net genoeg tyd om foto's te neem voor die terugtog na die basiskamp weer aangepak moes word," vertel hy laggend. Volgens hom was dit 'n verjaarsdag wat hy nooit sal vergeet nie.
Van jongs af het dié avonturier, wat in 1981 aan Hoërskool Langenhoven gematrikuleer het, nie teruggestaan vir 'n uitdaging nie. Hy het op 13-jarige ouderdom op 'n weeklange oorlewingsuitstappie deur die 'Hel' in die Swartberge by Prins Alfred gegaan, verskeie kere die 'Sleeping Beauty' uitgeklim en binne 'n dag van Swellendam na Riversdal gestap vir fondsinsameling vir die skool. Hy het reeds op 16-jarige ouderdom die moordende Voet van Afrika-marathon van 42km in Bredasdorp voltooi en hy was in matriek die eerste leerder wat die 56km Twee Oseane marathon in die Kaapste Skiereiland voltooi het.
"Ek het my inspirasie vir langafstand wedlope van my oud-onderwyser en oefenmaat, mnr. Lampies Lambrechts in 1977 gekry," vertel Francois. Lampies is steeds verbonde aan die skool. Na sy skoolloopbaan het Francois verskeie 100-myl wedlope, 24-uur afloswedlope en Comrades marathons voltooi.
Reeds sedert sy veertigste verjaarsdag het hy gesê dat hy sy vyftigste herdenking bo-op Kilimanjaro gaan vier en so gesê, so gemaak. Op 'n vraag of hy dit weer sal doen, het hy geantwoord: "Hoewel dit 'n besondere nederige en emosionele ervaring was om op die hoogste punt op die Afrika-kontinent te kon staan, was dit baie moeilik weens die gebrek aan suurstof. Ek sal dit vir enigiemand aanbeveel, maar dit is iets wat jy net een keer doen."
Sy volgende uitdaging is om vanjaar sy doktorsgraad aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie te voltooi. "'n Mens moet groot genoeg drome hê en nooit ophou droom, of opgee aan 'n droom nie, want net jy kan jou drome waar maak," sluit hy af.
Dis koud, die wind is snerpend maar ek is bo! Mariana Janse van Rensburg het saam met haar man, Francois die hoogste berg in Afrika uitgeklim om sy verjaarsdagwens te bewaarheid.